Header Artwork

Sowat 25 ingeskrewe studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) het gister in aanloop tot die De Goede Hoop huiskomitee-verkiesing ʼn inligtingsessie en besigtigingstoer by dié nuutsgestigte koshuis gehad wat in 2017 sy deure open.

Dié koshuis het ten doel om ʼn inklusiewe tuiste vir enige Afrikaanssprekende Tukkie-student te wees en kan beskryf word as ʼn kultuurinstelling wat verblyf bied vir alle studente wat gemaklik binne die Afrikaanse gemeenskap voel.

Hoewel De Goede Hoop ʼn privaatkoshuis is, word daar beoog dat die koshuis steeds aan tradisionele kampusaktiwiteite soos Jool, sêr en rugby sal kan deelneem.

“Daar is ’n groot behoefte aan ’n koshuis wat studente op meriete keur,” het Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, by dié geleentheid gesê.

Hy meen daar is ʼn tekort aan studenteverblyf en verduidelik dat universiteite gekonfronteer word met studente wat slegs ʼn behoefte het vir behuising, maar ook met studente wat ʼn behoefte het vir ʼn holistiese studente- en koshuiservaring.

Jansen van Rensburg het gesê gegewe politieke druk het daar spanning by universiteite ontstaan om aan die uiteenlopende behoeftes van studente te voldoen. “Politieke inmenging het ’n baie negatiewe impak en inperking op studentelewe en aksies,” meen hy.

“De Goede Hoop wil dus die gaping vul wat daar tans ontstaan vir ʼn koshuis wat ʼn gesonde studentelewe en -aktiwiteite bevorder. Ons wil vir studente ʼn ruimte skep waar hulle nie net ʼn nommer is nie en waar hulle hul taal en kultuur ten volle kan uitleef.”

De Goede Hoop sal deur AfriForum gefinansier word en op ’n Christelike grondslag geskoei wees. Dit sal onafhanklik van UP se ander koshuise funksioneer.

Arie Oelofse, ʼn meganiese ingenieurstudent by die UP, het aan Forum Nuus gesê dat hy graag by De Goede Hoop ʼn verskil wil maak deur die koshuis te help groei as ’n nalatenskap vir die volgende geslag.

“Ek sien uit na die nuwe geleenthede, aktiwiteite en selfs die uitdagings wat De Goede Hoop gaan bied.”

David Kuhn, ʼn informatikastudent by die UP, het gesê dat hy uitsien om deel van De Goede Hoop te wees omdat daar vir hom ʼn gevoel van samesyn en trots ontbreek by die UP.

“Ek sien daarna uit om wakker te word én te gaan slaap in ʼn Afrikaanse omgewing en om die geleentheid te kry om nuwe tradisies te skep en uit te leef.”

De Goede Hoop het ook op 30 Julie ʼn besoekersdag vir alle Afrikaanse studente wat belangstel om dié koshuis hul tuiste tydens hul universiteitsloopbaan te maak.

Besoekers sal tydens die geleentheid kans kry om ʼn inligtingsessie by te woon, lede van die huiskomitee (HK) te ontmoet en op ’n begeleide toer deur die koshuis te gaan.

Die koshuis is op die hoek van Jorrisen- en Verdoornstrate in Walkerspruit (1,8 km van die UP se Hatfield-kampus) geleë. Dit sal sowat 300 mans en dames kan huisves.

Verseker jou plek in die koshuis en volg hierdie skakel om jou aansoekvorm af te laai: http://degoedehoop.co.za/wp-content/uploads/…/07/Aansoek.pdf

Stuur die voltooide vorm terug aan admin@degoedehoop.co.za

Vir verdere navrae kontak Janli Sonntag by 012-644-3458 of stuur ʼn epos aan admin@degoedehoop.co.za

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN