Jacob Rees-Mogg, ’n Britse LP en Brexit-voorstander, het ’n storm ontketen nadat hy konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog geregverdig het.
Rees-Mogg het verlede week tydens ’n paneelbespreking oor die oorlog op BBC One se program Question Time vir sir Winston Churchill, voormalige Britse premier, opgekom wat gesê het die Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe het die “minimum” lyding veroorsaak. “Ek pleit nie dat mense van hul plase afgesit word en in kampe geplaas word nie, maar daar was ’n oorlog aan die gang en mense is gevat sodat hulle gevoed kon word omdat die boere weg was om in die Boereoorlog te veg.”
Grace Blakeley, ʼn ekonoom wat ook aan die program deelgeneem het, wou by Rees-Mogg weet of hy dus die gebruik van konsentrasiekampe regverdig. Hy het egter volgehou en gesê dat vroue en kinders na konsentrasiekampe geneem is omdat hulle nie vir hulself sou kon sorg op plase sonder mans nie.
Blakeley het dit aan Rees-Mogg gestel dat die Britte die gebruik van konsentrasiekampe uitgedink het en dat dit “sistematiese moord” was. Hy het gesê dat Blakeley “ongelukkig konsentrasiekampe met Hitler se uitwissingskampe verwar,” hoewel sy niks daarvan genoem het nie. Rees-Mogg het ook gesê die konsentrasiekampe het presies dieselfde sterftesyfer gehad as in Glasgow, Skotland, tydens dié oorlog van 1899 tot 1902.
Hy het bygevoeg dat ’n mens nie na die geskiedenis moet kyk vanuit die gemak van 2019 nie en aanneem die kampe was dieselfde as Hitler s’n nie. “Dit is heeltemal verskillend.”
Prof. Johann Tempelhoff, ’n Suid-Afrikaanse historikus, het aan die media gesê dat Rees-Mogg se uitlatings as “verregaande, onmenslik en oneties” beskryf kan word. Hy meen dié twee uiteenlopende oorloë kan nie met mekaar vergelyk word nie omdat daar in een land ’n volskaalse oorlog was terwyl daar vrede in die ander geheers het.
“Daar het sowat 28 000 vroue en kinders weens ’n gebrek aan higiëne, siektes en wanvoeding in die konsentrasiekampe omgekom. Dit het die Afrikaners, waarvan die oorgroot meerderheid uit landelike gebiede afkomstig was, jare geneem om te herstel,” meen Tempelhoff.
Fransjohan Pretorius, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria (UP), het verduidelik dat daar twee groepe in die konsentrasiekampe was. Hy meen daar was die hensoppers se vroue en kinders wat na die kampe toe is vir beskerming en die vroue en kinders van die Boere wat geweier het om oor te gee. Volgens Pretorius verkies die Britte tot vandag toe nog om na die konsentrasiekampe as vlugtelingkampe te verwys as gevolg van die hensoppers se mense.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, dui Rees-Mogg se “verdraaiing van feite” op ’n jammerlike gebrek aan kennis, óf die moedswillige ontkenning van feite wat al jare lank baie deeglik deur beide Britse en Suid-Afrikaanse historici nagevors is.
“Of hy die kommentaar ter harte gaan neem wat teen hom gemaak is, hang af of sy opmerkings onskuldig onkundig was, of ’n poging om byna 120 jaar na die uitbreek van die oorlog (1899-1902) die bloed van Britse hande te probeer afwas. Dat feite so gou vergeet of verdraai kan word, beklemtoon ook weer waarom dit noodsaaklik is om steeds navorsing oor die verlede te doen en die inligting bekend te stel, soos wat Kraal Uitgewers byvoorbeeld met die reeks, Kraal Histories, doen,” sê Bailey.
Die Britse Parlement het ook in 1901 verskil oor dié kampe, veral nadat druk deur Emily Hobhouse en ander op hulle toegepas is om die onmenslike toestande daar te ondersoek en stop te sit.
’n Afvaardiging van dames is dus uit Brittanje na suider-Afrika gestuur om ondersoek te kom instel en die Britse regering dienooreenkomstig te adviseer. Dit was die eerste keer wat Britse vroue in oorlogstyd met so ’n ernstige verantwoordelikheid toevertrou is.
Een van die afgevaardigdes was Millicent Fawcett. Sy was allermins ’n Boere-simpatiseerder, maar het na uitgebreide besoeke aan konsentrasiekampe saamgestem dat Emily se kritiek geregverdig was. Die onbevoegdheid waarmee die kampe bestuur is, het Millicent gegrief en sy is deur die vroue en kinders se lyding en gevolglike onnodig hoë sterftesyfer ontstel. Onder leiding van dié Dameskomitee is verbeteringe in die bestuur van konsentrasiekampe aangebring en het sterftesyfers begin daal.
In 2018 is ’n standbeeld van Millicent in Londen op Parlementsplein onthul. Sy het daarmee die eerste vrou geword wat op hierdie wyse op die besondere plek vereer is. Tevore was daar net standbeelde van mans wat ’n groot rol in die geskiedenis gespeel het.
“Die plein is reg oorkant die Britse Parlementshuis, so Rees-Mogg moes dus al verby die beeld gestap het. Dit is dus nog meer ironies dat hy homself bevoeg ag om oor die konsentrasiekampe se invloed ’n oordeel uit te spreek, maar geen kennis dra van ’n eie landgenoot met die statuur van Millicent se tydgenootlike verslag hieroor nie,” meen Bailey.