Projek Nehemia – ’n AfriForum-inisiatief wat die integrasie van en samewerking tussen verskillende gemeenskap- en veiligheidstrukture behels – se nut en sukses is beklemtoon tydens die onlussituasie in Hermanus.
Vanweë die sensitiewe ligging van die onlusgeteisterde Zwelihle het verskeie burgerlike veiligheidsgroepe (waaronder AfriForum-veiligheidstrukture) informele veiligheidsinisiatiewe geloods in ’n poging om hul wonings en ondernemings te beskerm. Dit sluit in buurtwagte, informele groepe en groepe sake-eienaars wat reg rondom die grens tussen Zwelihle, Sandbaai en Hermanus stelling ingeneem het.
Onderlinge koördinering tussen die groepe, asook tussen die groepe en wetstoepassers was egter ʼn probleem en gevolglik het Mark Kuys, bevelvoerder van die Overstrand-gemeenskapveiligheidseenheid, ná beraadslaging met die SAPD en as deel van Projek Nehemia se kernbeginsel, ’n taktiese hoofkwartier by die sentrale operasiesentrum opgerig. Kuys het dadelik kommunikasie tussen homself en onderling tussen alle partye – insluitend die SAPD – bewerkstelling om op hierdie wyse alle burgerlike veiligheidsinisiatiewe sentraal te bestuur.