Header Artwork
Begrotingsrede beklemtoon ANC-regering se mislukkings

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen die begrotingsrede wat Tito Mboweni, minister van finansies, vandag gelewer het, onderskryf weereens dat die regering nie oor die vermoë beskik om Suid-Afrika doeltreffend te regeer nie.

Die ekonomie kan eenvoudig nie voortbeur onder die druk van onbetroubare kragvoorsiening nie. “Die staat moes al jare gelede daadwerklike stappe geneem het om ’n einde aan beurtkrag te bring. Buiten dat Eskom geprivatiseer moet word, moet ander kragverskaffers ook toegelaat word om in die sektor te kompeteer,” sê dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake.

“Die verhoging van kragtariewe, sowel as sekere belastings en die brandstofheffing, is eenvoudig immoreel. Belastingbetalers trek reeds swaar en die staat se weiering om daadwerklike aksie te neem teen korrupsie en wanbesteding, maar eerder nog geld van burgers te eis, is absoluut onaanvaarbaar,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte.

AfriForum sê verder dat die Minister weereens daarin gefaal het om daadwerklike stappe te neem om die enorme uitgawe op staatslone te verminder, soos hy al telkemale beloof het om te doen.

Dit is ook duidelik uit die begrotingsrede dat die Minister dink dit is ’n prestasie om toenemend meer welsynstoelae uit te betaal, eerder as om ’n stabiele omgewing te skep vir die ekonomie om te groei en sodoende meer werksgeleenthede daar te stel. “Daar is tans meer mense wat van welsynstoelae afhanklik is, as wat daar belastingbetalers is en dit stuur op ’n ramp af,” sê Broodryk.

Die staat se rigtinglose planne om die ekonomie te herstel, beklemtoon weereens waarom mense eerder in hul eie gemeenskapsekonomie moet belê, en so hulle gemeenskap bemagtig en versterk.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN