Deur AfriForum en Treasure Karoo Action Group
AfriForum en die Treasure Karoo Action Group werk al baie jare lank saam om hidrobreking in Suid-Afrika te voorkom. As Suid-Afrika se watertekorte en wydverspreide droogtes in ag geneem word, is hidrobreking besonder sorgwekkend. In sekere dele van die Verenigde State is hidrobreking verbode, en hierdie twee organisasies moedig die regering aan om hidrobreking ook in Suid-Afrika te verbied.
Langer as ’n dekade nadat gewone mense wat langs hidrobreking in die VSA woon, alarm gemaak het oor lewensbedreigende gesondheidsrisiko’s en wydverspreide besoedeling deur hierdie toksiese bedryf, het die Delaware River Basin Commission (DRBC) op 25 Februarie 2021 eenparig besluit om hidrobreking in die Delaware-rivierkom te verbied. Die gebied strek oor die vier deelstate Pennsilvanië, Delaware, New Jersey en New York-staat. New York-staat het voorts ook hidrobreking orals binne sy grense verbied. Die DRBC is ’n regeringsagentskap in die VSA wat in 1961 ingestel is deur ’n interstaatlike verdrag wat deur president John F Kennedy op die wetboek geplaas is.
Hierdie jongste terugslag vir hidrobreking (skaliegasontginning) volg ná verskeie moratoriums en verbiedinge teen hierdie mynproses in die vier deelstate oor die afgelope dekade.
Hidrobreking is die proses om fossielbrandstowwe, soos olie en gas, te ontgin deur ’n mengsel van water, sout en toksiese chemikalieë in die aarde in te spuit. Dit is ’n gevaarlike aktiwiteit – sommige van die chemikalieë wat gebruik word, is toksiese besoedelstowwe wat gekoppel word aan kanker, genetiese mutasies en ander nadelige gevolge vir menslike gesondheid, en daar is bewys dat die chemikalieë ’n verwoestende uitwerking op akwatiese lewe en ekosisteme het. Volgens die fossielbrandstofbedryf kan een liter koolwaterstof 1 miljoen liter water besoedel. As die Delaware-rivierkom vir hidrobreking aangewend sou word, sal nagenoeg 45 000 mense binne ongeveer 2 km van die hidrobrekingaktiwiteite woon, met groot risiko van genoemde gesondheidsbedreigings.
’n Belangrike besluit in die Afrika-konteks
Hierdie wetgewende besluit is geweldig belangrik in die Afrika-konteks. Die verbod beskerm meer as 45 000 mense wat naby werklike of beplande hidrobrekingbedrywighede woon, en dit het ’n einde gemaak aan aktiwiteit in een van die rykste skaliegasgebiede ter wêreld. Laastens, leiers en wetgewers het openbare gesondheid, vars water en skoon lug bo winste uit fossielbrandstowwe gestel.
Oorvloedige oppervlakwater in die Delaware-rivierkom
Die Delaware-rivierkom het ’n oorvloed water vanuit groot rivierstelsels wat deur goeie reën (in Pennsilvanië gemiddeld nagenoeg 1 600 mm per jaar) en smeltende sneeu gevoed word. Suid-Afrika, Namibië en Botswana kry baie van hul water vir landbou en huishoudelike gebruik uit ondergrondse akwifere – dieselfde akwifere wat deur hidrobreking bedreig word. Die wegdoen van toksiese neweprodukte van die hidrobrekingsproses is ’n ontsaglike uitdaging – selfs die VSA weet nie hoe om van miljoene liter toksiese slik en water ontslae te raak nie. Afrika het nóg die moniteer- en toepassingshulpbronne nóg die kundigheid om dit te bestuur.
’n Doeltreffende moniteer- en toepassingsagentskap en -regime
Die VSA het ’n goed toegeruste en volledig opgeleide omgewingsmoniteervermoë. In Afrika is dit vir mynmaatskappye oor die algemeen moontlik om die omgewing te besoedel en te vernietig sonder om daarvoor aanspreeklik gehou te word voordat dit te laat is, indien ooit. Nigerië is ’n goeie voorbeeld van wat die fossielbrandstofbedryf aan die omgewing kan doen.
Gasnetwerk dwarsoor die VSA
Die meeste Amerikaanse gemeenskappe is toegerus om gas vir nywerheidstoepassings, verwarming en kosmaak te gebruik. Suid-Afrika het geen gaspypleidinginfrastruktuur nie, en ’n pypleiding, met groot en duur kompressorstasies, sal teen enorme koste gebou moet word vir ’n onsekere toekomstige lewensduur. Eskom sukkel om selfs normale daaglikse bedrywighede te bestuur, laat staan nog om ’n toevoernetwerk vir vlugtige gas oor duisende kilometer te ontwikkel, te bedryf en te bestuur.
Afrika se komplekse geologie
Die geologie van Afrika suid van die Sahara verskil baie van dié van die Verenigde State en word gekompliseer deur die feit dat die ondergrondse water dikwels in ’n stelsel van vulkaniese dolerietplate en -gange voorkom. Dit verhoog die koste van boorwerk en bring mee dat die kanse van besoedeling van ondergrondse akwifere en rivierstelsels eksponensieel toeneem.
Ekonomie
Die verhoogde koste van boorwerk en ontginning met die gebruik van buitelandse kenners, toerusting en personeel maak die prys van die gas nog hoër as dit vergelyk word met die beskikbaarheid van aardgas wat aan hawens in Namibië en Suid-Afrika gelewer word vanuit Angola, Tanzanië, Mosambiek en selfs die ooskus van die VSA. Inagneming van die beginsel van omgewingsekonomie (met ander woorde, die koste van permanente skade aan ’n omgewing wat aktiwiteite soos landbou, bestaansboerdery en grootskaalse toerisme onderhou) bring ’n ander perspektief vir die sogenaamde ekonomiese opbloei van skaliegas. Eenvoudig gestel, dit sal, op die ou einde, tot ’n netto verlies lei.
Die Caveat
Aan die leiers van Suid-Afrika, Namibië en Botswana is my voorstel soos volg:
Kom uit julle kantore en reis na die VSA. Moenie ’n minister stuur nie. Reis self as die leier van jou regering. Besoek gemeenskappe wat met die gevolge van hidrobreking saamleef en gesels met hulle – hulle is regte mense met regte stories, nie uitvoerende beamptes van oliemaatskappye wat vir jou sê wat jy wil hoor sodat hulle met hidrobreking kan begin nie.
Kyk na die verskille tussen Amerika en Afrika soos hierbo uiteengesit, en dink aan die werklike gevolge as hidrobreking in julle lande toegelaat sou word. Julle mense kan sonder gas lewe – hulle kan nie sonder water lewe nie. Neem nou die ongewilde besluit. Sê vir die geldtellers en gelduitleners “nee”. Laat ’n nalatenskap na vir die jong mense en toekomstige leiers van jou land – nie ’n verwoeste ekosisteem met siek mense nie.