“Bêre maar jul verkennings- en hidrobrekingplanne.” Dít is die raad van Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake aan afgevaardigdes wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskaplikes (ASSAf) se konferensie vandag in Port Elizabeth bygewoon het. Party afgevaardigdes was verras en ander opgewonde om uit te vind dat AfriForum en die Treasure Karoo Action Group (TKAG) in alliansie die departement van minerale hulpbronne (DMH) in Februarie volgende jaar in die hof gaan ontmoet.
Op ’n vraag aan die ASSAf-konferensie of die regulasies geformuleer is voordat genoeg wetenskaplike inligting aan die lig gekom het om dié regulasies te rig, en of die korrekte minister die hidrobrekingregulasies geformuleer en gepromulgeer het, het prof. Jan Glazewski van die Universiteit van Kaapstad (UK) geantwoord dat AfriForum heel moontlik sukses in sy hofsaak teen die DMH sal behaal omdat die regulasies deur die departement gepromulgeer is sonder dat dit volgens wet gemagtig was om dit te doen.
Pawson het die media meegedeel dat die hofaksie fokus op die ongepastheid van regulasies wat skaliegasverkenning en produksie beheer. Die alliansie het die hof onder meer versoek om dié regulasies ter syde te stel – ’n uitkoms wat elke skaliegas- en geallieerde verkenning- en produksieaktiwiteit sal beïnvloed. Pawson het bevestig dat die alliansie aan elke verkenningsaansoeker sal skryf om hulle van die komende hofaksie in kennis te stel.
Jonathan Deal, uitvoerende hoof van Treasure Karoo Action Group, het opgemerk dat die konferensie se tema (Towards a science action plan) aandui dat ASSAf reeds besluit het dat skaliegasverkenning (en uiteindelik -produksie) in Suid-Afrika sal voortgaan. “Dit is ’n verrassing, veral gegewe die duidelike boodskap oor besoedeling en gepaardgaande risiko’s wat in die ASSAf- en WNNR-verslag van 2017 beklemtoon word. Wetenskaplikes – bes moontlik Suid-Afrika se bestes – het besoedeling en ander kwessies ondubbelsinnig as ‘onvermydelik’ beskryf,” het hy gesê.
Pawson het bygevoeg dat ons, in die lig van die katastrofiese droogte waaronder Suid-Afrika tans gebuk gaan, onsself namens alle Suid-Afrikaners moet vra of dit sin maak om die bietjie kosbare water wat nog oor is, op die ontginning van gas te waag.
Deal het daarop gewys dat, al kan sowel ondersteuners as teenstanders van hidrobreking wetenskaplike artikels voorhou om hul standpunte te verdedig, die aard van al die ontwikkelings wat oorweeg moet word, baie versigtig teen ’n paar onontkombare feite geweeg moet word. Die aantal werksgeleenthede wat Shell aan plaaslike gemeenskappe beloof het, is byvoorbeeld só oordryf dat dit amper te goed is om waar te wees: Shell se syfers wissel tussen 300 000 en 700 000, terwyl Suid-Afrika se topwetenskaplikes dit op nie meer as 3 000 plaas nie. En selfs al sou Eskom in staat wees om onmiddellik van groot hoeveelhede gas gebruik te maak, kan dieselfde produk sonder verwyl en meer ekonomies van bronne in Tanzanië, Mosambiek, Angola en selfs die VSA verkry word – boonop sonder om kosbare water in gedrang te plaas wanneer daar bo-oor, onderdeur, rondom en deur ondergrondse waterstore geboor word waaruit Suid-Afrika ’n beduidende deel van sy drink- en landbouwater kry.
Ter afsluiting het Pawson gesê dat die beskikbare feite aandui dat hernubare energiebronne fossielbrandstowwe in terme van werksgeleenthede troef, en dat son- en windaanlegte geen skade aan landbou, toerisme of waterhulpbronne doen nie. Daar is aanduidings dat die opkoms van ’n kortstondige hidrobrekingbedryf slegs ’n paar welgeplaaste en bevoordeelde persone tot nadeel van baie Suid-Afrikaners sal bevoordeel. “Met verwysing hierna sal die alliansie besoedeling en onnodige ontginning van ons land teenstaan,” het hy gesê.
Gemeenskapslede kan die alliansie ondersteun deur ’n SMS met “Fracking” na 45354 (R1) te stuur.