Vullisterreine en soliede munisipale vullis is ’n moontlike goudmyn vir energie.
Só meen Pieter van Niekerk, direkteur van Biolec Afrika, ’n afval-tot-energie maatskappy wat hitte en elektriese energie uit industriële en munisipale afval genereer.
Hierdie tipe praktyke word in baie lande in die wêreld toegepas en lewer hoë opbrengste. Slegs ’n klein gedeelte van die vullis wat nie verbrand- of vergasbaar is nie, moet verwyder word en steeds na ’n vullisterrein geneem word of met ’n ander geskikte proses behandel word. Die gesondheidsrisiko’s verbonde aan ’n verbrandings- of vergassingsaanleg is ook aansienlik minder as om ’n vullisterrein te bedryf.
Afval-tot-energie is een van verskeie alternatiewe oplossings wat die burgerregte-organisasie AfriForum in sy 2019 vullisterreinouditverslag lys wat munisipaliteite moet begin ondersoek om Suid-Afrika se vullisbestuur op peil te kry.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, sê dat munisipale vullisterreine landwyd besig is om agteruit te gaan. Dié organisasie bestudeer reeds sedert 2014 elke jaar die toestand van Suid-Afrika se stortingsterreine en hul 2019-verslag dui daarop dat slegs 22 van die 127 terreine wat hul afgelope drie maande geoudit het, aan die minimum wetlike standaarde voldoen.
Grobbelaar sê daar is verskeie kommerwekkende kwessies wat by vullisterreine ondervind word, onder meer swak of geen toegangsbeheer, geen omheining, infrastruktuur soos weegbrûe wat ontbreek, onwettige mediese afval wat op die terreine gestort word en families met kinders wat op sommige van die terreine woon.
Hy het egter ook daarop gewys dat verskeie vullisterreine verbeter het nadat gemeenskappe betrokke geraak en hulle ’n afvalmoniteringskomitee aangestel het.
Een só voorbeeld is die Libanon-vullisterrein in Westonaria. Dié vullisterrein het tydens die 2018-oudit ’n skamele 9% ontvang en binne ses maande na ’n spogvullisterrein (100% in 2019) verbeter.
Moses Mokwana, bestuurder by dié vullisterrein, het aan Forum Nuus gesê dat dit uiters belangrik is dat munisipaliteite alle belanghebbendes in die gemeenskap moet betrek. “Dit is baie goed dat organisasies soos AfriForum onafhanklike oudits kom doen want ons as die staat kan nie ’n speler en skeidsregter wees nie.”
Luidens AfriForum se vullisterreinouditverslag moet die belanghebbende gemeenskap wat hul bestaan uit vullisterreine maak ook nie buite rekening gelaat word nie.
“Dié mense kan in diens geneem word en hul rommelversamelings kan by hulle aangekoop word om te vergas of om te hersirkuleer. Daarbenewens kan ’n gedeelte van die aandelekapitaal gereserveer word vir die opheffing van arm gemeenskappe,” meen Grobbelaar.
Volgens Grobbelaar sal AfriForum graag met die implementering van oplossings wil help en die organisasie moedig munisipaliteite ook aan om met hul in verbinding te tree. “Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”
Só het die vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:
Provinsie | Getal vullisterreine wat geoudit is | Getal vullisterreine wat voldoen aan meer as 80% van die minimum vereistes | Getal vullisterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie |
2019 | 2019 | 2019 | |
Wes-Kaap | 9 | 4 | 5 |
Noord-Kaap | 12 | 2 | 10 |
Oos-Kaap | 6 | 2 | 4 |
Vrystaat | 20 | 0 | 20 |
Mpumalanga | 25 | 2 | 23 |
Gauteng | 21 | 11 | 10 |
Limpopo | 12 | 4 | 8 |
KwaZulu-Natal | 7 | 2 | 5 |
Noordwes | 15 | 1 | 14 |
Nasionale totaal | 127 | 28 | 99 |