AfriForum het die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA) versoek om redes te verskaf vir die besluit wat die reguleerder op 14 Junie 2018 oor die regulatorieseaansuiweringsrekeningaansoek (RAR) (Engels: Regulatory Clearing Account) vir die 2014/2015-, 2015/2016- en 2016/2017-finansiële jaar gepubliseer het. NERSA het R32,69 miljard van Eskom se versoekte R67 miljard toegestaan.
AfriForum se versoek vir hierdie redes is belangrik omdat kommentaar op sowel die RAR-aansoek vir 2017/2018 as op die volgende tariefverhoging teen 30 November 2018 ingedien moet word. Dié inligting is kritiek vir verskeie organisasies om behoorlik aan die openbaredeelnameproses te kan deelneem.
“Die multijaarprysvasstellingsproses laat Eskom toe om geregverdigde kostes te verhaal. Ten spyte daarvan dat NERSA in elkeen van hul verklarings genoem het dat dié redes gepubliseer sal word, het dit nog nie gebeur nie. Ons wil weet watter handelinge as omsigtig beskou word om ons kommentaar op te stel. NERSA moet gemeenskappe inlig oor hulle besluite sodat die openbaredeelnameproses na behore kan geskied,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die aanvanklike aanduiding was dat dit reeds in September bekend gemaak sou word. “NERSA het wel in Junie aangedui dat hulle eers met Eskom moet konsulteer oor wat bekend gemaak kan word en wat nie. In die lig van korrupsie by Eskom is dit is uiters problematies om inligting van die publiek te weerhou en die feit dat die bekendmaking van die redes sloer, is rede tot kommer,” sê Brink.