Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n formele skrywe aan die parlement gerig om ’n openbare verhoor oor plaasmoorde te hou. Die skrywe is gerig aan Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, ná ’n skerp toename in plaasaanvalle oor die afgelope twee maande.
Volgens Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, was daar in Junie vanjaar 40 plaasaanvalle, waartydens vyf moorde gepleeg is. In Julie was daar 40 plaasaanvalle, waartydens nege moorde gepleeg is en in Augustus was daar tot dusver agt plaasaanvalle en 1 moord. In die versoek aan Joemat-Pettersson vra AfriForum spesifiek dat organisasies wat by die stryd teen plaasmoorde betrokke is die geleentheid gebied word om voorleggings oor potensiële oplossings aan die komitee voor te lê. Dit is veral nóú belangrik in die lig van die misdaadstatistiek wat verlede week bekendgemaak is, asook die stelling deur genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, dat plaasmoorde ’n groter prioriteit binne die SAPD moet geniet.
In sy skrywe aan Joemat-Pettersson sê Roets dat ’n mens – soos lede van die Suid-Afrikaanse regering al menigmaal gedoen het – sou kon aanvoer dat die getal mense wat op plase vermoor word maar ’n klein persentasie verteenwoordig van die totale getal mense wat in Suid-Afrika vermoor word. Dié argument berus egter op ’n wanbegrip van statistieke, omdat die plaasgemeenskap inderdaad ’n klein persentasie van die totale getal Suid-Afrikaners uitmaak. Hy voeg by dat die volgende feite in ag geneem moet word wanneer plaasmoorde beoordeel word:
- Die gereeldheid waarteen hierdie aanvalle plaasvind, ook met inagneming van die grootte van die groep;
- Die unieke vlak van brutaliteit en geweld wat tydens hierdie aanvalle gepleeg word;
- Die rol wat die landbougemeenskap in Suid-Afrika speel, veral in terme van voedselproduksie en werksgeleenthede; en
- Die feit dat boere so ver van hul bure en die naaste polisiestasies woon.
Daarom glo AfriForum dat plaasmoorde ’n groter prioriteit by die regering moet geniet, sê Roets – nie omdat boere op spesiale behandeling geregtig is nie, maar op gelyke behandeling.
“Ons pleidooi is vir gelyke behandeling vir boere omdat dit standaardpraktyk is om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel in reaksie op unieke misdade wat verreikende gevolge het. Dit gebeur egter nie in die geval van plaasmoorde nie.”