Header Artwork
AfriForum versoek Gautengse wetgewer om druk op Makhura te plaas ná Lesufi se uitlatings   

AfriForum het vandag in ’n skrywe aan die Gautengse wetgewer versoek dat druk op David Makhura, die Premier van Gauteng, geplaas word om op te tree teen Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir Onderwys. Dit volg nadat Lesufi na bewering tydens ’n vergadering stellings gemaak het wat daarop dui dat hy inmenging in tenderprosesse aanmoedig.

Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, kan die provinsiale wetgewer, by magte van die Grondwet, ’n provinsiale premier verkies en hom/haar ook uit sy/haar amp verwyder sou ’n premier onder meer ongeskik wees om die funksies van sy/haar kantoor uit te voer. “Hierdie funksies sluit in dat ’n premier moet toesien dat sy uitvoerende raad, wat die kantoor van die LUR van Onderwys insluit, hul funksies na behore uitvoer. Makhura het egter enkele dae nadat die opname van Lesufi se uitlatings aan die lig gekom het, sy ondersteuning vir Lesufi uitgespreek en gesê dat hy geen planne het om Lesufi af te dank nie. Makhura kon kwalik binne hierdie tydperk ’n behoorlike ondersoek na die opname geloods het en dit laat rooi vlaggies opduik oor waarom hy Lesufi sonder enige huiwering beskerm.”

Dit het verder vroeër vanjaar aan die lig gekom dat R431 miljoen binne drie maande deur die Gautengse Onderwysdepartement bestee is aan die reiniging en ontsmetting van skole en fasiliteite in dié provinsie deur diensverskaffers oor wie se geskiktheid groot vraagtekens hang. “Lesufi het hierop gereageer deur te sê dat hy geskok is oor die klaarblyklike wanbesteding van belastinggeld wat daarop dui dat hy geen idee het van wat in sy departement aangaan nie. AfriForum het in hierdie geval ook Lesufi se bedanking geëis, maar dit blyk dat die premier weereens in hierdie geval nie beplan om teen hom op te tree nie.”

AfriForum voer verder in hul skrywe aan dat Lesufi se geskiedenis wat die bestuur van sy departement betref, veel te wense oorlaat. “Ons het hierdie gebreke (onder meer die wanbesteding, gebrek aan gehalteskole, asook die chaos wat daar elke jaar in die provinsie met die plasings van leerders in skole is) al in die verlede onder die premier se aandag gebring, maar dit blyk dat hy steeds versuim om daadwerklik teen Lesufi op te tree. Gegewe die ernstige bewerings teen Lesufi, asook dat hy in beheer is van ’n departement wat getaak is met die uitvoering van kinders se reg op onderwys, hoop ons dat die Gautengse wetgewer die nodige druk op Makhura sal uitoefen om stappe teen Lesufi te neem.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN