In Mei verlede jaar het Etrisia du Toit (72) se lewe in ’n oogwink verander toe sy tydens ’n plaasaanval buite Pretoria deur haar kakebeen geskiet is.
Sy het sedertdien drie operasies ondergaan en môre kry sy danksy finansiële steun van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid ook inplantate. “Ek is so opgewonde dat ek uiteindelik iets anders as mash en jellie sal kan eet.”
Du Toit is na die aanval in haar suster se huis op ’n kleinhoewe in Leeuwfontein, sowat 25 km noordoos van Pretoria, as ’n ystervrou beskryf.
Min mense weet dat daar voor dié aanval ook ander was waar sy ter nouernood aan die dood ontkom het.
Vroeg in 2000 het sy en haar man net op die plaas Voorwaarts buite Messina ingetrek. Sy het na klippe gekyk wat sy in die tuin wou gebruik toe sy deur twee mans met donkerbrille oorval is. Sy het ’n hou teen die kop gekry, maar kon daarin slaag om tot in die hoofpad te hardloop waar plaaswerkers haar hoor skreeu en te hulp gesnel het. ’n Paar jaar later het hulle by kinders op Thabazimbi gekuier. Hulle wou piekniek op ’n koppie gaan hou en is dorp toe waar sy en haar skoondogter geld by die bank getrek het om kos te koop. Toe sy weer sien het ’n aanvaller by die OTM ’n vuurwapen op haar skoondogter en kleinkind gerig. “Ek het geskreeu: Skiet my, skiet my, maar los hulle!”
Die aanvaller het met die wapen in haar rug gedruk na buite geloop en kort daarna weggehardloop.
Toe sy vroeër in Pretoria was om een van die operasies te kry, is haar man in Messina in hul dorpshuis oorval. “Die aanvallers het hom erg geslaan en ondanks die ou geld wat sy oor jare van verskillende lande versamel en in haar kluis gebêre het, is haar vuurwapen en ander besittings gesteel.
Volgens Du Toit vra baie mense haar hoe sy die aanval, wat haar volgens haar “geskend” het, verwerk het.
“Ek is nie iemand wat oor dinge top nie. Wat gebeur het, het gebeur. Ek was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. ’n Mens moet sterk wees, anders sal jy jou kop verloor. Dit het my wel baie gepla dat ek nou so lyk en sukkel om te praat. Ek het ook baie gewig verloor en weeg maar nou 46 kg.”
Du Toit sê sy was nooit vir die aanvallers kwaad nie. Sy het een van hulle in die nek geskiet nadat hy ondanks haar waarskuwings deur ’n venster gekom en op haar afgestorm het. Hy is drie dae later dood.
Sy is baie dankbaar vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid se hulp en ondersteuning. “Hulle het ons wonderlik bygestaan.”
Volgens Willie Krüger, ’n slagofferondersteuner by die eenheid, het hy en tannie Trish goeie vriende geword. “Ek is bevoorreg om haar te kon bystaan. Sy is ’n inspirasie en mens put soveel krag uit haar geloof. Ek is bly dat ons dié pad saam kon stap.”
Du Toit is nie bang vir môre se operasie nie. “Alles gebeur met ’n doel. Ek is dankbaar vir die kans en vir die dokter wat my gaan opereer. Ek lewe nog en dan is ’n mens mos oukei.”