Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 27 Januarie 2021 ’n nuwe tak in De Doorns gestig ná verskeie versoeke uit die gemeenskap. Dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum, het as gasspreker ’n praatjie met die titel “Situasie-ontleding 2021” via Zoom gelewer.
Die pasverkose takbestuur bestaan uit Malan Jordaan (voorsitter), Deon Jonker (ondervoorsitter), Inge Victor (tesourier), JP Victor (sekretaris), Ansie Rossouw (jeug), Graham Abrahams (omgewingsake) en Charl De Goede (veiligheid en plaaslike regering).
Tydens die stigtingsvergadering het Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland-distrik, die organisasie se model en onlangse suksesse voorgehou. Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, het uitgewei oor AfriForum se veiligheidsplan en -strukture, asook die voordele daaraan verbonde. Dit sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.
“Die pasverkose bestuur is vuur en vlam om die probleme wat inwoners ervaar uit die weg te ruim. Die takbestuur wil graag saam met die gemeenskap werk om volhoubare selfdoenprojekte van stapel te stuur en hul gemeenskap te beveilig. AfriForum sien uit daarna om in die toekoms saam met die tak te werk en ook leiding te bied in die poging om die gemeenskap meer weerbaar te maak” sê Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “De Doorns” na 45265 (R1).