AfriForum het op 3 November ’n tak in Uitenhage gestig ná verskeie versoeke deur die plaaslike gemeenskap. Tydens die stigtingsvergadering het Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, die organisasie se model en onlangse suksesse voorgehou.
Die nuutverkose takbestuur bestaan uit Pieter Avenant (voorsitter), Danie Jonck (ondervoorsitter), Tanya-Lee Pienaar (tesourier), Milinda Ferreira (sekretaris), Adriaan Niewerth (jeug) en Lynette Gouws (omgewingsake).
Tydens die vergadering is daar uitgebrei oor AfriForum se veiligheidsplan en -strukture, asook die voordele daarvan. Dit sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.
“Baie dankie aan elkeen wat bereid is om die gemeenskap van Uitenhage te help deur op AfriForum se plaaslike takbestuur te dien. Ons sien uit na die pad vorentoe en om weer eienaarskap te vestig in dié gemeenskap in die pragtige Oos-Kaap,” sê Greyling.
“Ons is dankbaar vir diegene wat die moeite gedoen het om by die stigtingsvergadering te wees. Hierdie is ’n stewige fondament waarop ons weer die krag van ’n gemeenskap kan benut tot voordeel van almal,” sê Avenant.
Raak vandag nog by AfriForum se Uitenhage-tak betrokke: SMS “Uitenhage” na 45342 (R1).