Header Artwork

Die burgerregte-organisasie AfriForum is steeds van plan om adv. Nomgcobo Jiba, ’n voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), privaat te vervolg ondanks ’n uitspraak deur die appèlhof wat haar en adv. Lawrence Mrwebi se skrapping as advokate van die rol, opgehef het.

’n Meerderheidsuitspraak in die appèlhof het ’n uitspraak van die Noord-Gautengse hoë hof opgeskort wat vroeër gelas het dat Jiba en Mrwebi van die rol van advokate geskrap moet word. Dit beteken dat Jiba na haar pos by die NVG kan terugkeer nadat sy in 2016 op spesiale verlof geplaas is. Drie regters, Jerry Shongwe, Willie Seriti en Connie Mocumie het ten gunste van Jiba beslis en bevind dat die balieraad nie wangedrag kon bewys in terme van Jiba se hantering van die vervolging van Richard Mdluli, voormalige intelligensiebaas, nie.

Die meerderheidsuitspraak het ook die vorige uitspraak verwerp wat bevind het dat Jiba nie behoorlik en geskik is om as advokaat op te tree nie. Luidens die uitspraak is daar in die omstandighede van dié saak nie rede om ’n waardeoordeel te maak oor of Jiba inderdaad geskik is om as advokaat op te tree nie.

Regters Eric Leach en Christiaan van der Merwe het egter nie met die meerderheidsuitspraak saamgestem nie en was ten gunste van die balieraad se besluit dat hulle geskors moet word.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, meen die uitspraak vandag hou geen struikelblok vir die beoogde strafregtelike klagtes teen Jiba in nie.

AfriForum en adv. Gerrie Nel het in November 2017 aangekondig dat Jiba privaat vervolg sal word. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op en wil Jiba vir bedrog en meineed vervolg. Jiba is allerweë bestempel as iemand wat in oudpres. Zuma se binnekring was. Die Noord-Gautengse hoë hof het in Desember 2017 beslis dat die NVG se besluit om Jiba nie te vervolg nie, onregmatig was.

As adv. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, nie binne ’n redelike tyd besluit om Jiba te vervolg nie, sal aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat gedoen word. Indien die NVG nie dié sertifikaat wil uitreik nie, sal ’n mandamus-aansoek gebring word om die staat te dwing om sy werk te doen. Abrahams kan sodoende gedwing word om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik.

Vandag se appèlhofuitspraak sal Abrahams noop om vinniger ’n besluit te neem oor of Jiba vervolg moet word aldan nie.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN