AfriForum het op 12 Desember brandbestrydingstoerusting aan die Tokoloko-brandvereniging in die Boshof-distrik geskenk om hul in die toekoms te help met brandbestryding. Altesaam 12 Husqvarna-blasers, wat saam met water gebruik word om teen brande te blaas, is aan Willem van Niekerk, voorsitter van die vereniging, oorhandig.
Die skenking volg na die vernietigende brande wat in Oktobermaand in die Wes-Vrystaat gewoed het en meer as 100 000 ha wyding vernietig het.
“Dit is vir AfriForum belangrik om die boeregemeenskap te ondersteun. Ek glo en vertrou dat hierdie brandtoerusting die boere van hulp sal wees om brande in die toekoms te bestry. Dit is belangrik om die gemeenskap te bemagtig. Ons sê dankie vir elkeen wat by die blus van die brande betrokke was,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture.
“Dit is presies wat ons nodig het om te help met die bestryding van die brande waar ons nie die terrein met voertuie kan bereik nie. Ons is vreeslik dankbaar vir die skenking,” sê Van Niekerk.
Die oorhandiging is gedoen tydens ’n funksie by die Makuna Game Lodge in die Boshof-distrik.
AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by AfriForum se plaaslike strukture betrokke te raak: SMS jou dorp se naam na 42310 (R1).