Header Artwork
AfriForum sê US-konseptaalbeleid bied weinig vir toekoms van Afrikaans

Soos vereis het AfriForum teen die sperdatum van 14 Augustus 2021 kommentaar op die tweede konsepweergawe van die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid ingedien. Hoewel die universiteit se taakspan moeite gedoen het om aan te toon dat kommentaar wat op die eerste weergawe van die beleid gelewer is, in ag geneem en selfs dikwels in die tweede konsep gebruik is, beskou AfriForum dit nie as enige bewys van ’n sterk verbintenis tot die beskerming en bevordering van Afrikaans as medium van tersiêre onderrig nie.

Soos in die verlede, onderneem die universiteit dat veral drie tale, Afrikaans, Engels en Xhosa, op alle terreine gebruik sal word, en meertaligheid bevorder sal word. Afrikaans word darem nie meer as “nie inheems” beskryf in ooreenstemming met die onsinnige definisie in die beleid van die Departement van Hoër Onderwys nie. Ná regter Steven Majiedt se kommentaar in die Konstitusionele Hof tydens die saak van AfriForum teen Unisa se eentalige Engelse taalbeleid, sou dit wel moeilik wees om steeds aan dié omskrywing geloofwaardigheid te gee. Verder word die beginsel van transtaligheid onderskryf en ook erken dat die insluiting van Afrikaans vir die US deure in die internasionale akademiese wêreld oopmaak, met verwysing na Nederland en België. Oor die geheel beskou is dit egter maar kleiner kosmetiese regstellings op die weg na verengelsing.

In reaksie op die vraag wat die ideaal sou wees, het Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, geantwoord dat ’n openbare universiteit se verbintenis tot moedertaalonderrig die antwoord sou wees. “In die Wes-Kaap kan voornemende studente kies tussen verskeie openbare tersiêre onderriginstellings, maar by nie een van hulle kan ’n student onderrig vir ’n kwalifikasie volledig in Afrikaans kry nie, ten spyte daarvan dat sowat die helfte van die provinsie se inwoners Afrikaanssprekend is. ’n Mens sou verwag dat universiteite hulle verbintenis tot Suid-Afrikaanse tale bewys deur in die onderskeie provinsies te sorg dat daar ten minste een instelling is waar ’n student ’n kwalifikasie volledig in sy of haar moedertaal kan behaal. Met Afrikaans sou dit reeds moontlik wees in die Wes-Kaap, terwyl die noodsaak ten minste al nóg ’n instelling sou dwing om Xhosa sterker tot dié vlak te ontwikkel. So kon elke provinsie ten minste een of twee tale kies om as toekomstige primêre taal van onderrig uit te bou. Nou is die realiteit dat nege van die inheemse amptelike tale stadig vorder met geen sekerheid oor die uiteindelike status daarvan nie, Afrikaans moet veg om hoëfunksiestatus te behou en Engels is en bly eintlik maar die enigste oorheersende akademiese taal in die land.”

Volgens Bailey geskied hierdie stand van sake ten koste van die studente se ontwikkeling en die bevolking wat hulle uiteindelik moet bedien se behoeftes. Afrikaanssprekendes wat in die verlede aan enkeltalige Afrikaanse instellings in hulle moedertaal studeer het, beklee die mees senior posisies in verskeie sektore reg oor die wêreld. Moedertaalonderrig bevorder juis meertaligheid, verdraagsaamheid en lojaliteit aan die plaaslike gemeenskap, soos studies bewys het. Ongelukkig wil alle universiteite soveel studente as moontlik lok, en om dit moontlik te maak, moet hulle van moedertaalonderrig afwyk en Engels insluit. So word Engelstalige studente en gemeenskappe bevoordeel, ten koste van die meer as 90% Suid-Afrikaners wat nie Engels as eerste taal praat nie.

“Solank tale van kleiner gemeenskappe met Engels moet kompeteer, gaan die tale ’n ontwikkelingstryd beleef en die sprekers daarvan gevolge soos die vroeë staking van studies, laer geletterdheidvlakke, ’n gebrek aan redenasievermoë, minderwaardigheidsgevoelens, hoër werkloosheid en groter potensiaal vir maatskaplike onrus beleef. Universiteite doen egter nie die moeite om hierdie verskynsels, wat al dekades lank deeglik gedokumenteer is, in ag te neem wanneer taalbeleide opgestel word nie. Om dié rede is Suid-Afrikaanse gemeenskappe se vernaamste hoop op langtermynsukses en welvaart privaat instellings wat wel moedertaalonderrig aanbied,” sê Bailey.

AfriForum moedig dosente en studente aan om enige geleenthede wat die finale taalbeleid van die US wel nog vir moedertaalonderrig sal skep, aan te gryp en steeds te eis dat hulle taalregte erken en uitgebrei word. Bailey meen Afrikaanssprekendes kan nooit die onverkwiklike posisie van hulle taal as noodwendigheid aanvaar nie, maar moet steeds voortgaan om meer ruimte daarvoor en vir ander inheemse tale te skep.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN