AfriForum se tak in Upington het oor die afgelope vyf weke meer as 1 400 brode geskenk aan sopkombuise in Pabalelo, Rosedale, Kalksloot en Stasiekamp. Die woonbuurte is gemeenskappe in Upington wat gebuk gaan onder hoë werkloosheid. Die inwoners ontvang geen hulp van die staat nie en die Gemsbok Bakkery en AfriForum het dus besluit om saam te werk om hulle te help.
Sowat 70 brode word elke tweede dag deur die bakkery aan AfriForum geskenk, waarna dit na die sopkombuise in Upington geneem word.
“AfriForum se Upington-tak bedank die Gemsbok Bakkery vir die liefdadigheidswerk wat hulle saam met ons aanpak. Saam kan ons ’n verskil in die gemeenskap maak deur mense te help wat werklik in nood is,” sê Erica Strauss, voorsitter van AfriForum se Upington-tak.
Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350 (R1).