Die AfriForum-tak in Springs het vyf tontelhouteby Hoërskool Dr. Johan Jurgens as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.
Volgens Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landwyd te plant. “Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Swart.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te gedy en die AfriForum-tak in Springs onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” sluit Swart af.
AfriForum bedank graag Wildflower Nursery vir die skenking van die bome.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.