Die AfriForum-tak in Potchefstroom het binne vier maande meer as 2 000 slaggate in dié dorp herstel. Dit behels ’n area van meer as 8 000 m2.
“Ons sal nie meer terugstaan en toekyk hoe Potchefstroom agteruitgaan nie. AfriForum sal voortgaan om deur die loop van die jaar nóg slaggate in die dorp te herstel. Ons sal inwoners bystaan om te verseker dat die dorp se toestand nie verder versleg weens die onbevoegdheid van die Tlokwe Plaaslike Munisipaliteit nie,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes.
AfriForum se Potchefstroom-tak hou statistiek by van elke slaggat wat herstel is en in watter strate dit gedoen is. “Die tak is hier om ’n positiewe bydrae in die dorp te maak en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak. Ons moet minder van die regering afhanklik wees en eerder selfonderhoudend word,” sê Herman Swiegers, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak.