Header Artwork
AfriForum se Paulpietersburg-tak besluit om aan eDumbe Plaaslike Munisipaliteit rommelstatus te gee

Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het besluit om aan die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit rommelstatus te gee vir dienste gelewer en vir die stink rookwolk wat snags oor die dorp hang. Hierdie rook word veroorsaak deur ’n smeulende vullisterrein wat etlike dae al smeul en nie deur die munisipaliteit aangespreek word nie.

Die plaaslike AfriForum-tak het die munisipaliteit op terme geplaas en terselfdertyd die onderskeie Departemente van Omgewingsake op provinsiale en nasionale vlak in kennis gestel van die voortslepende probleem.

“Ons inwoners in Paulpietersburg se gesondheid is in gevaar, veral snags wanneer ’n rookwolk oor die dorp vorm. Die belastingbetalers se bydrae tot die plaaslike regering se begrotings is meer as R26 miljoen en ons kan nie aanvaar dat hierdie vullisterrein verder in dié toestand gelaat word nie,” sê Martin Dedekind, voorsitter van AfriForum se Paulpietersburg-tak.

“AfriForum se onlangse vullisterreinoudits het getoon dat vullisterreine in KwaZulu-Natal versleg en dit is nodig om die provinsiale en nasionale owerhede betrokke te kry. eDumbe Plaaslike Munisipaliteit het in 2017 ’n beraamde R18 miljoen gekry om ’n nuwe vullisterrein te ontwikkel, maar die nasionale Departement van Omgewingsake was nie tevrede met die verloop van die projek nie en het besluit om die fondse te weerhou,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum beoog om verdere gesprekke met die Departement van Omgewingsake in KwaZulu-Natal te voer om die walglike stand van vullisterreine in dié provinsie te bespreek.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN