AfriForum se Alfa-buurtwag wat deel vorm van dié burgerregteorganisasie se Overstrand-tak het op 2 November as deel van die tak se #OnsDorp-projek die begraafplaas in Onrus skoongemaak.
Dié projek volg nadat AfriForum klagtes van gemeenskapslede ontvang het dat die begraafplaas in ’n onversorgde toestand is.
Volgens Lourens Theron, voorsitter van AfriForum se Alfa-buurtwag, was die begraafplaas oorgroei met bosse en onkruid. “’n Begraafplaas behoort ’n plek te wees waar mense respek aan hulle oorlede geliefdes kan betoon en die onversorgde toestand van die begraafplaas is onaanvaarbaar. Daar is dus besluit om in te gryp en die begraafplaas self op te knap,” sê Theron.
Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê dit is belangrik dat die finale rusplek van mense se afgestorwe geliefdes skoon en veilig moet wees sodat mense nie ongemaklik en onveilig voel om die begraafplaas te besoek nie.
Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in jóú gemeenskap te maak: SMS “Overstrand” na 45265 (R1).