Header Artwork


Die AfriForum-tak in Nelspruit het as deel van dié burgerregte-organisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek bome by die perseel van die Nelspruit Gemeenskapsforum geplant. Die bome is deur mnr. Robert Spath van Nelspruit geskenk.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Nelspruit onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” meen McCullough.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.
Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur “Nelspruit” te SMS na 45350 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN