Ná maandelange volgehoue druk deur AfriForum se Naboomspruit-tak het die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit tydens die eerste week van Mei 2021 ’n besoek by die rioolpompstasie in Roedtan afgelê, waarna dit binne ’n week herstel is.
Inwoners van Roedtan het AfriForum vroeër genader met klagtes omdat onverwerkte riool op sommige plekke in die gebied uitgepomp word. Die organisasie het sedert Julie 2020 reeds verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig en talle besoeke aan die munisipaliteit gebring oor onverwerkte riool in die omgewing. Die onverwerkte riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir inwoners in en dit word onbehandeld in velde in die gebied uitgepomp.
AfriForum het verskeie kere daarop aangedring dat die munisipaliteit die probleme moet oplos en ’n plan moet voorlê om te verseker dat die kwessie volhoubaar opgelos word.
Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dié maandelange stryd het uiteindelik nou vrugte afgewerp.
“Die situasie met die riool in Roedtan is skokkend en om tydens die staat van inperking boonop nog onverwerkte riool in die velde te sien, is uiters ondraaglik. Die riool vloei in die velde en is baie onhigiënies,” sê ds. Willem Pelser, ’n verteenwoordiger van AfriForum in Roedtan.
“Inwoners in dié woongebied word weekliks deur hierdie probleem in die gesig gestaar. Dit skep verskeie probleme en gesondheidsrisiko’s. Dit is skokkend dat hulle in sulke omstandighede moet leef,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.
Raak vandag nog by AfriForum se Naboomspruit-tak betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).