Die AfriForum-buurtwagte in Mpumalanga het die afgelope drie maande in samewerking met die SAPD en veiligheidsinstansies aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Tydens die patrollie het 117 AfriForum-buurtwaglede en 56 ander veiligheidsrolspelers aan dié sigbaarheidspatrollie deelgeneem.
AfriForum het op 1 November 2020 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid te verhoog. AfriForum se buurtwagte wil ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.
“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede. Ons wil gemeenskapslede graag aanmoedig om aan hierdie sigbaarheidspatrollies deel te neem en om betrokke te raak om misdaad in hul omgewing te bekamp,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder in Mpumalanga.
“Projekte soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul woonbuurte te beveilig,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.
Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).