Die AfriForum-tak in Heilbron het vandeesweek gevaarlike slaggate in Langmarkstraat in dié dorp herstel. Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het 15 sakkies teer verskaf waarmee die tak vyf gevaarlike slaggate herstel het. Die pad word eintlik deur SANRAL onderhou, maar omdat voertuie al skade daar opgedoen het, het AfriForum en die munisipaliteit saamgespan om die gate te herstel.
Dié AfriForum-tak het ook brandstof aan die munisipaliteit verskaf aangesien al die munisipaliteit se brandstofrekenings gevries is. Werkers wat die rioollyne moet oopmaak, kan nie hul werk verrig as die voertuig sonder brandstof is nie, daarom het AfriForum hulp verleen.
Nadat AfriForum in 2020 ’n vergadering met dié munisipaliteit in Parys bygewoon het, is ’n kontrakteur aangestel om die vullisterrein se paaie te skraap. Dit is egter glad nie voldoende nie en AfriForum gaan nou weer ’n vullisterreinoudit doen, waarna hul weer met die munisipaliteit sal vergader.
“Dit is goed om te sien dat die munisipaliteit AfriForum se helpende hand begin aanvaar. Ons is bewus daarvan dat hulle bepaalde uitdagings het. Dit is dus vir ons belangrik dat hulle ons hulp aanvaar sodat ons Heilbron kan verbeter, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 31481 (R1) en raak vandag nog betrokke.