AfriForum se Hartbeespoort-tak het op 23 Februarie noodwaterpunte voorsien en herstelwerk aan infrastruktuur gedoen. Dit volg nadat inwoners van Meerhof, Ifafi en Melodie vanaf 21 tot 23 Februarie geen toegang tot water gehad het nie. AfriForum, die bestuur van Xanadu Eco Park, Deon van Huizen (Kormorant) en Charles de Beer het toegetree om die gebarste waterpype te herstel. ENI Supplies het ’n watertrok geborg wat saam met AfriForum se waterkarre gebruik is om water aan die gemeenskappe te voorsien.
“Die mense het vir meer as twee dae geen toegang tot water gehad nie. Ons moes inspring en help nadat die munisipaliteit aangedui het dat hulle nie die nodige toerusting het om die gebarste pype te herstel nie. AfriForum se Hartbeespoort-tak sal nie huiwer om die gemeenskap te ondersteun tydens krisistye nie,” sê Dennis Webster, voorsitter van AfriForum se Hartbeespoort-tak.
“Dankie aan al die AfriForum-lede in Hartbeespoort vir hul finansiële bydraes wat dit vir AfriForum moontlik maak om die gemeenskap te help. AfriForum sal altyd die gemeenskap ondersteun in nood en is deurlopend besig met beplanning om meer bystand te kan bied,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
Verder vra die organisasie dat gemeenskapslede en ondernemings betrokke sal raak by die inisiatief om nog ’n groter verskil in die gebied te maak en om soortgelyke projekte aan te pak. Lede van die gemeenskap kan betrokke raak by die inisiatief deur die woord “Hartbeespoort” te SMS na 45351 (R1).