Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag twee energieverwante petisies – onderskeidelik oor Eskom en die brandstofheffing – by die parlement ingedien.
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dat Eskom en die elektrisiteitsektor dringende aandag op die hoogste vlak moet geniet. “Die kragreus het onder verskeie korrupsieskandale deurgeloop en die tesourie het ook verslae uitgereik oor Eskom se verskeie oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1 van 1999. Die wanbestuur van nuwe kragstasies en rampspoedige steenkoolkontrakbestuur laat Suid-Afrika onder hewige beurtkrag deurloop. Eskom se skuld beloop nou al nagenoeg R420 miljard.
“Dit is nou reeds baie duidelik dat Eskom, as ’n struktuur met ’n monopolie op kragopwekking, nie na behore funksioneer om betroubare kraglewering te verseker nie. Genoeg is genoeg. Ons het ’n parlementêre debat nodig oor hoe Eskom gedesentraliseer kan word en hoe daar na oplossings gesoek kan word om Eskom te ontbondel. Ons versoek die parlement ook om ’n kommissie van ondersoek oor Eskom se sake aan te beveel,” sê Mostert.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, sê hoewel daar ’n groot daling in die brandstofprys in Desember was, betaal Suid-Afrikaners steeds te duur daarvoor. “Dit bly bo R15 per liter aan die einde van 2018, terwyl dit R13,54 in Maart vanjaar was en R12,61 in 2015. Nie net betaal ons duurder by die pompe nie, maar dit het ook ’n uitwerking op inflasie, sodat ander goedere soos kos ook vinniger duurder word. Die jongste daling is voorafgegaan deur massiewe stygings en gaan waarskynlik ook deur nuwe stygings in die nuwe jaar ongedaan gemaak word,” sê Brink.
Volgens hom moet daar weer na die brandstofheffings gekyk word. “Sowel nasionale en provinsiale staatsdepartemente as die meeste staatsbeheerde ondernemings het in 2017/2018 ten minste R51 miljard se onreëlmatige besteding aangegaan. Die Padongelukkefonds (POF), wat sowat R2 van elke liter brandstof se prys ontvang en oor ’n jaarlikse begroting van sowat R37 miljard beskik, was vanjaar in die nuus omdat hulle R1 666 per maand per stoel ingevolge ’n twyfelagtige kantoormeubelkontrak opdok.
“Indien hierdie soort vermorsing en praatjies oor byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding uitgeskakel kan word, kan die POF se werking en ook ander uitgawes wat deur die algehele brandstofheffing gedek word, betaal word. Ons vra dat daar ook ’n parlementêre debat oor die verlaging van die onderskeie brandstofheffings in die konteks van hierdie vermorsing en algehele ekonomiese beleid plaasvind, want verbruikers kan eenvoudig nie meer verdere druk absorbeer nie,” sluit Brink af.
Die twee petisies is ook vandag aan die departement van energie gestuur.