AfriForum het deur die loop van 2019 ’n peiling onder lede onderneem om vas te stel wat hul taalbehoeftes is wanneer hulle gesondheidsorgpraktisyns raadpleeg. Dit volg op die aanvegbare aanname van onder meer hospitaalgroepe, die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en mediese skemas dat gesondheidsorgkommunikasie in slegs Engels voldoende is.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is dié stelling kommerwekkend, aangesien Engels die huistaal van minder as 10% van die land se inwoners is. “Internasionale studies bewys dat mense wat trauma beleef of onder emosionele druk verkeer minder vlot in ’n tweede taal funksioneer. Ons wou graag vasstel wat ons lede se ervaring in dié verband is,” verduidelik Bailey.
Die 1 024 deelnemers aan die peiling, wat AfriForum Navorsingsinstituut van stapel gestuur het, is uit al nege provinsies van die land afkomstig en strek in ouderdom van 18 tot ouer as 65. Van hulle is 59% mans en 41% vroue, met 96% wat oor matriek of ’n hoër kwalifikasie beskik.
Altesaam 85% van die deelnemers het verklaar dat taal bepaal watter praktisyn hulle kies wanneer ’n keuse moontlik is en 83% het selfs spesifiek genoem dat hulle verkies om diens van gesondheidsorgpraktisyns in hul moedertaal te kry.
Meer kommerwekkend is hul terugvoer oor probleme wat hulle ervaar het wanneer hulle ’n tweede of derde taal vir kommunikasie met gesondheidsorgpraktisyns moes gebruik. 19,5% van die respondente het aangedui dat hulle al in mediese situasies was waar daar misverstande ontstaan het omdat hulle nie in hul moedertaal kon kommunikeer nie. Dit het ingesluit dat hulle nie die simptome behoorlik aan die praktisyns kon verduidelik nie, dat hulle nie die newe-effekte van medisyne verstaan het nie en dat hulle nie die diagnose of behandelingsprosedure behoorlik verstaan het nie. Uit hierdie groep het 13% geantwoord dat hulle lewensgevaarlike gevolge beleef het: 13% van dié respondente het letterlik maande lank geneem om te herstel, terwyl 8% lewenslange nadelige gevolge oorhou.
Volgens Bailey is hierdie studie se resultate ’n bewys dat meer navorsing oor dié tema noodsaaklik is. “As daar in ag geneem word dat die respondente ’n klein, redelik homogene en geletterde groep mense is, is 19,5% met probleme besonder hoog. Dit laat meer vrae ontstaan oor die ervaring van die mees kwesbare lede van die Suid-Afrikaanse bevolking, naamlik diegene wat minder geletterd is en vir wie Engels nie eens ’n tweede of derde taal is nie.”
Die respondente is ook gevra oor die taal waarin hulle verkies om met hul mediese skemas te kommunikeer en 74% het aangedui dat hulle hul moedertaal verkies. Skemas moet hiervan kennis neem aangesien dit verantwoordelike, veilige kommunikasie met lede sal verseker, maar ook omdat meertalige dienslewering waarde toevoeg en ’n belangrike bemarkingsvoordeel aan hulle bied,” voeg Bailey by.
“Op Internasionale Moedertaaldag doen AfriForum ’n dringende beroep op gesondheidsorgpraktisyns om sover as moontlik diens in die moedertaal van hul pasiënte te lewer. Dit mag letterlik die verskil tussen lewe en dood vir pasiënte beteken, en wanpraktykeise teen gesondheidsorgpraktisyns voorkom.”