Header Artwork


AfriForum het die nuus dat die kabinet ’n tegniese taakspan aangestel het om te verseker dat Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof korrek geskied, as bewys van die regering se volharding op ‘n pad teen menseregte beskryf.
Dié aankondiging volg na ’n uitspraak van die Noord-Gautengse hoë hof op 22 Februarie vanjaar dat die regering nie die korrekte prosedure gevolg het om aan die Strafhof te onttrek nie. Volgens inligting ontvang, sal die taakspan se doel wees om die onttrekkingsproses reg te stel en nié om die wysheid van onttrekking aan die Hof te ondersoek nie.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dui die regering se voortsetting van die onttrekking aan die strafhof daarop dat een insident – naamlik verskille tussen die regering en die Hof in 2016 oor die arrestasie van die omstrede Soedannese president Omar al-Bashir – vir die regering veel swaarder weeg as om ’n internasionale rol in die bevordering van menseregte en voorkoming van oorlogsmisdade en soortgelyke vergrype te speel.

“Onttrekking sal vrae skep oor Suid-Afrika se verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg,” verklaar sy.

Vroeër vanjaar is die indruk geskep dat ’n groot hoeveelheid Afrikalande aan die hof gaan onttrek, maar selfs Gambia, wat al met ’n onttrekkingsproses begin het, het later weer van plan verander. Suid-Afrika word deur die voortsetting van die onttrekkingsproses dus een van ’n klein groepie lande wat nie aan die strafhof se groter ideaal van internasionale verantwoordbaarheid saamwerk nie.

“Dat die beskerming van ’n persoon soos Al-Bashir, oor wie se kop klagtes van gruwelike oorlogsmisdade hang, swaarder weeg as Suid-Afrika se internasionale reputasie en hierdie beginsels, bewys hoe ver die regerende party se morele kompas van koers af is,” voeg Bailey by.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN