AfriForum Jeug het vandag ’n skrywe aan die Suid-Afrikaanse Instituut van Professionele Rekenmeesters (SAIPR) gerig waarin die jeugorganisasie eis dat dié instituut sy rassebeleid opskort.
In ’n jaar waarin COVID-19 soveel ekonomiese skade aangerig het, wil instansies soos die SAIPR ook nou nog mense op grond van ras by sy Project Achiever-program uitsluit. Die doel van hierdie program is om jong rekenmeesters vir die SAIPR se professionele evaluasie-eksamen voor te berei sodat hulle daarna as professionele rekenmeesters kan registreer.
Wit, bruin, Indiese en Asiatiese groepe word finansieel uitgesluit en as tweedeklasburgers hanteer. Daar word aan minderheidsgroepe die opsie gegee om met betaling toegang tot die program te koop, terwyl dit gratis vir swart mense is.
“Dit dui op die blatante rassisme en ontkoppeling tussen die SAIPR en die Suid-Afrikaanse samelewing. Daar moet gelyke geleenthede wees vir alle burgers van Suid-Afrika, ongeag hulle ras,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.
AfriForum Jeug eis dus dat die SAIPR sy rassebeleid opskort en die burgers van Suid-Afrika as gelykes sal hanteer, veral in ’n tyd van ekonomiese nood.
Raak vandag nog by AfriForum Jeug se strukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na jeug@antiek.afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1).