Header Artwork

Die AfriForum-takke in Belfast, Dullstroom en Machadodorp in Mpumalanga het verlede week ingegryp en die watertoevoer na sowat 50 000 inwoners van die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit herstel.

Dit volg nadat werkers van dié munisipaliteit glo op 4 Julie die kleppe wat die waternetwerk van onderskeidelik Belfast, Dullstroom, Machadodorp en Waterval-Boven beheer, weens ontevredenheid oor salarisbetalings toegedraai het.

Volgens Anita Minnaar, voorsitter van AfriForum se Dullstroom-tak, is inwoners gevolglik vir vier dae sonder water gelaat.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat die gebrek aan water groot probleme veroorsaak het en dat ondernemings in dié dorpe geweldig skade gely het onder die munisipale werkers se optrede.

“Ek is die eienaar van vier gastehuise en moes 16 mense probeer akkommodeer sonder water. Ons wou nie die gaste ontstel nie, maar dit was werklik ʼn nagmerrie om onder dié omstandighede te werk,” het Minnaar gesê.

Die burgerregte-organisasie se takke in dié onderskeie dorpe het toe op 19 Julie die Emakhazeni Munisipaliteit op terme geplaas om watertoevoer na dié dorpe op ʼn dringende basis te herstel.

Volgens Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, het die aanmaningsbrief van die burgerregte-organisasie verder geëis dat die munisipaliteit strafregtelike klagtes teen die stakende werkers by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet indien, terwyl die munisipaliteit ook gemaan is om die munisipale eiendom te beskerm.

Lizzy Tshabalala, munisipale bestuurder van Emakhazeni, het nie op die aanmaning gereageer nie.

Die AfriForum-takke het toe daarin geslaag om die watertoevoer ná volgehoue druk met behulp van gekontrakteerde ingenieurs, die plaaslike polisie, voormalige munisipale werknemers en privaat sekuriteitsmaatskappye op 21 Julie te herstel.

Volgens Weber het Refile Mtsweni, Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA), ook nie daarin geslaag om dié situasie te ontlont nie nadat sy die stakende werkers op dieselfde dag toegespreek het.

“Hoewel ons verwag dat die staking nog vir ʼn geruime tyd sal voortduur, sal AfriForum die situasie monitor en deurgaans vir die regte van sy lede opstaan,” het Weber gesê.

Die Belfast-tak het intussen ook ʼn groot skoonmaakaksie uitgevoer om die gemors wat die stakings tot gevolg gehad het, op te ruim.

“Hoewel die munisipale werkers die reg voorbehou om te staak, het hulle egter geen reg om die watertoevoer te sny nie,” meen Weber.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN