AfriForum en Solidariteit het hul regspan opdrag gegee om ’n saak voor te berei om die regering se voorgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe teen te staan. Die twee organisasies wil verseker dat die regering se wanbestuur en korrupsie nie daartoe lei dat mense wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie.
AfriForum se standpunt is dat die regering nie ’n monopolie kan hê om te besluit wie die entstof kry en wie nie. As die privaatsektor toegelaat word om die entstowwe aan te koop en te versprei, sal die verspreiding van die entstof aan diegene wat ingeënt wil word meer doeltreffend wees, dit sal magsvergrype deur die regering verhoed and dit sal verseker dat die proses nie ontspoor word deur die regering se onbevoegdheid of korrupsie nie.
“Regdeur die inperking het die regering bewys dat korrupsie en onbevoegdheid hoogty vier wanneer hulle ’n monopolie het op COVID19-verwante beleid en verpligtinge. AfriForum wil dus die moontlike misbruik van regeringsmag probeer verhoed waar die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe ter sprake is, deur tot die stryd toe te tree om die privaat sektor toe te laat om deel te wees van hierdie poging,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, kan Suid-Afrika nie die nasionalisering van entstowwe toelaat nie. Die staat het ’n geskiedenis van mislukkings en Suid-Afrika kan allermins nog ’n mislukking tydens hierdie krisis bekostig.