Die burgerregteorganisasie AfriForum het gisteraand ’n dringende prokureursbrief aan onderskeidelik die Minister van Gesondheid, van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, en van Openbare Werke gerig om te eis dat Suid-Afrikaners wat gerepatrieer word meer gereeld en duidelik van die reëlings vir hul terugkeer ingelig word. Die organisasie eis ook dat dié Suid-Afrikaners en ander wat oor land vanuit die buiteland terugkom die reg moet hê om sowel so gou moontlik vir COVID-19 getoets te word as om in selfisolasie te gaan as hulle wel kan selfisoleer.
Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, volg dié eise op AfriForum se suksesvolle regsaksie teen die aanhouding van mense in die bouvallige en potensieel gevaarlike Zithabeseni-kwarantynkamp. Dit volg ook op verskeie gevalle die afgelope week van terugkerende Suid-Afrikaners wat op lughawes gestrand gelaat word weens gebrekkige kommunikasie oor repatriasievlugte en die staat se onvermoë om kwarantynfasiliteite gereed te hê.
“Dit is ’n uiters spanningsvolle ervaring om weens die sluiting van internasionale grense skielik in die buiteland gestrand te raak terwyl jou fondse vinnig minder raak. Mense moet dan met die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking kontak hou om gerepatrieer te word. Om verstaanbare redes – soos onderhandelinge met elke lande wat hul lugruime moet oopstel en die opspoor van lugrederye en personeel wat dié vlugte kan hanteer – neem dit lank voor vlugte beskikbaar gestel word. Wanneer dit egter dae neem om sitplekke op dié vlugte te bevestig, moet mense ook reëlings tref om op kort kennisgewing van hul plekke van tydelike verblyf tot by die betrokke lughawens te kom. Wanneer vlugte dan boonop skielik gekanselleer of herskeduleer word, neem die spanningsvlakke van dié mense en hul geliefdes tuis toe tot onhoudbare vlakke in ’n tyd wat reeds groot eise aan ’n mens stel.”
Sue-Ann de Wet, bestuurder van Suid-Afrikaanse Diaspora by AfriForum, verduidelik dat gereelde en duidelike kommunikasie dus noodsaaklik is. “Tans spartel mense om inligting te kry. Uit desperaatheid kontak hulle dan die Departement, lughawe, lugredery en ander Suid-Afrikaners op sosiale media. Die gevolg is teenstrydige berigte, vals gerugte en nog meer probleme. As hulle kan staatmaak op kommunikasie van die Departement op vaste tye wat duidelik en omvattend is, sal hierdie probleme voorkom word en vertroue in die proses beduidend verbeter.”
Wat kwarantyn betref, noem Bailey dat mense in ’n wyd uiteenlopende verskeidenheid van fasiliteite aangehou word. “Die tydperk van aanhouding wissel: Sommige bly slegs enkele dae daar; ander die volle veertien dae; ander na bewering selfs langer. Sommige word dadelik getoets vir COVID-19; ander eers ná etlike dae; ander glad nie. Dit is ’n deurmekaarspul wat mense weer eens emosioneel aftakel. Hulle het begrip vir die noodsaak van afsondering ná oorgrensreise, maar wil dan sekerheid hê oor kwessies soos toetsing, die duur van die kwarantyn, reisreëlings van die fasiliteit na hul tuistes en die opsie van selfisolasie.”
“Al dié onsekerheid is besig om van die humanitêre proses om mense huis toe te bring eintlik ’n verlenging van hul ontbering te maak, wat geheel en al onnodig is,” sluit Bailey af.
Indien die Departemente nie teen die einde van vandag op AfriForum se skrywe reageer nie, sal AfriForum verdere regstappe doen.