Deur Alana Bailey
In Suid-Afrika het ons gewoond geraak aan die eensydige propaganda oor taalregte wat ons deur die heersende party en ander populiste gevoer word.
Ongelukkig maak die argumente vir baie intelligente, maar oningeligte mense sin.
Ook vir baie Afrikaanssprekendes, wat dan nie kan wag om van hulle moedertaal afstand te doen nie.
Voor ons ons eie mense te skerp oordeel, moet ons in gedagte hou dat regerings sonder ’n politieke wil om inheemse tale te beskerm en bevorder, wêreldwyd dieselfde drogredes aanvoer waarom ons ons eie tale moet offer op die altare van groot wêreldtale soos Engels, Frans, Spaans, Mandaryns of Arabies.
Die feit het weer enkele dae gelede aan die lig gekom by die eerste byeenkoms van die Afrika-Midde-Oosterse Streeksforum vir Onderwys, Taal en die Menseregte van Minderhede. Dit het op 28 en 29 Oktober 2019 in Tunis, Tunisië plaasgevind en ek het die voorreg gehad om AfriForum en Afrikaans daar te verteenwoordig.
Hierdie forum het sy bestaan aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir minderheidsaangeleenthede, dr. Fernand de Varennes, te dankie. Hy het in 2018 by die jaarlikse sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, gesê dat die koste van die reis na Switserland baie voornemende deelnemers aan die forum se aktiwiteite van deelname weerhou. Dit beperk die impak van dié liggaam, omdat stemme wat gehoor moet word, gevolglik uitgesluit word. Die oplossing hiervoor sou wees om voor die forum se internasionale sitting, verskeie streeksbyeenkomste te hou.
Vanjaar het sodanige byeenkomste in Asië, Europa en Afrika plaasgevind. Die ideaal is dat Sentraal- en Suid-Amerika hopelik in 2020 hierby gevoeg sal word.
Die jaarlikse internasionale byeenkoms, bied ’n belangrike platform aan minderhede soos Afrikaners om hulle stemme oor vergrype wat hulle belange raak, aan die lig te bring. Omdat dit deur letterlik honderde afgevaardigdes bygewoon word en daar net vier beperkte sessies is waartydens insette gelewer kan word, was die benadering in die verlede om aan soveel deelnemers as moontlik ’n spreekbeurt te probeer gee. Die afgelope twee jaar is die gevolg dat deelnemers se insette tot slegs twee minute beperk moet word. Voorheen was dit drie minute, maar steeds kry almal nie ’n kans nie. Verder vertraag regeringsverteenwoordigers dikwels ook die verrigtinge omdat hulle die reg het om verontskuldigende of verklarende repliek op kritiek van deelnemers te lewer. Dit kan ’n frustrerende ervaring vir die teenwoordiges wees.
Daarbenewens het die internasionale byeenkoms ook jaarliks ’n bepaalde tema en is deelname veronderstel om op oplossings vir ’n spesifieke probleem te probeer vind. Omdat dit egter vir baie deelnemers die enigste geleentheid is om op ’n internasionale platform kritiek teen diskriminerende owerheidsoptrede te lewer, hou baie deelnemers nie by die tema nie en voel ’n mens dikwels na afloop van die verrigtinge onseker oor watter aanbevelings gemaak is en of jou instelling se bepaalde insette werklik gehoor en in ag geneem is.
In teenstelling hiermee was die streeksforum se byeenkoms ’n heerlike werksessie wat oor twee dae gestrek het en waartydens enige aanwesige deurentyd enige inset oor die tema van minderheidstaal en -onderwys kon lewer.
Uit die besprekings is aanbevelings opgestel wat vandeesmaand aan die teenwoordiges by die internasionale byeenkoms in Genève voorgehou sal word met die oog op VN aanbevelings aan lidlande oor die beskerming en bevordering van taalregte in hulle onderskeie gemeenskappe.
Elke aanbeveling is met groot sorg geformuleer en nie as afgehandel beskou alvorens alle teenwoordiges tevrede met die inhoud daarvan was nie.
In sy inleiding het dr. De Varennes die aanwesiges weer herinner dat owerhede graag hulle verantwoordelikheid jeens minderheidstaalgroepe probeer ontduik deur die drogredenasies aan te voer dat die gebruik van een wêreldtaal finansieel meer voordelig vir die inwoners is en maatskaplike samehorigheid aanmoedig.
Soos hy tydens sy optrede by byeenkomste van AfriForum in onder meer 2015 verduidelik het, het hy weer beklemtoon dat mense wat in hulle moedertaal studeer, langer in die onderwyssisteem bly, dus beter gekwalifiseer raak, ekonomies meer produktief word en vir die land waarin hulle woon, meer inkomste en welvaart verseker. Mense wat deur ’n tweede, derde of vierde taal moet leer, veral van primêre of sekondêre vlak af, staak hulle studies vroeër, is dus meer geneig om van maatskaplike staatshulp afhanklik te raak en verspil die geld wat deur die staat aan die subsidiëring van onderwysgeleenthede spandeer word.
Van die mees vernietigende konflikte in die onlangse verlede, het ook oor die ontkenning van taalregte gehandel – byvoorbeeld in die voormalige Joegoslawië en Oekraïne. In Asië word die uitbreiding van taalregte en meertaligheid toenemend vir konflikbeslegting ingespan. Dit bewys hoe die ANC en ander regerings van die dag se argumente oor eentaligheid wat sogenaamd “sosiale kohesie” bevorder, ook ’n ongeldige en holruggeryde argument is wat eerder tot minderhede se onderdrukking aanleiding gee, as om hulle op enige wyse te steun.
Ten slotte, internasionale sukses en welvaart berus op die gehalte van iemand se kennis en arbeid, nie die taal wat hy of sy praat nie. Wanneer mense in eie taal studeer, is hulle insig en vlak van argumentasie net soveel beter, wat beteken dat deure volhoubaar oopgaan vir hulle. As die basis van die kennis in hulle eie taal gelê is, leer die kundiges ook maklik om dit in meerdere tale aan te bied. Moderne hulpmiddels soos tolkdienste en rekenaarvertaalprogramme skep bowendien meer geleenthede vir mense om hulle kennis wyd toeganklik te maak.
Die aanwesiges, wat veral uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste afkomstig was, het breedweg oor dieselfde ervarings en frustrasies gepraat as dít waaroor ek namens AfriForum en Afrikaanssprekendes gepraat het – soms word programme op grond van ras, politieke of godsdienstige oortuiging, of ekonomiese oorwegings gedryf. Deurgaans word diegene wat voorspraak vir die gebruik van hulle moedertale in onderwysinstellings maak, dan van ongesonde nasionalisme, uitsluiting en nasionale dislojaliteit beskuldig. Die ironie dat dit juis hierdie moedertaalsprekers is wat op grond van taal uitgesluit word en teenoor wie die regerings wat flink belasting insamel, dislojaal is, word misgekyk.
In die groep se aanbevelings is gefokus op maatreëls wat getref kan word deur moedertaalaktiviste en internasionale organisasies soos die VN om hierdie regerings weer te herinner dat die beskerming en bevordering van álle tale in hulle lande hulle verantwoordelikheid is – ’n noodsaaklikheid en nie ’n luukse nie. Meer hieroor sal na afloop van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede op 28 en 29 November 2019 in Genève bekendgemaak word.
Wat ook by die streeksforum se byeenkoms duidelik geword het, is dat die belangrikste is dat die sprekers van tale self verantwoordelikheid vir die toekoms daarvan moet aanvaar. Die ideaal is ’n regeringsopset waarbinne die tale (en hulle sprekers met hulle unieke geskiedenis en kultuur) gekoester sal word, maar in die praktyk gebeur dit selde. Die antwoord begin by begeesterde individue en organisasies wat self moue oprol en die taak van aktivisme plus praktiese uitbouing van die betrokke taal aanvaar – ’n resep wat AfriForum met ons “veg en bou” strategie al lankal volg.
Die byeenkoms in Tunisië was ’n geleentheid om ervarings te deel en by mekaar te leer, maar ook ’n kans om vir Afrikaans ’n netwerk van internasionale vriende te vestig – mense wat die meriete van argumente oor taalregte en moedertaalonderrig ondersoek en nie net teen ras, historiese gebeure of politieke oortuigings vaskyk nie.
Tans berei AfriForum vir deelname aan die twaalfde jaarlikse sitting van die Forum vir Minderheidsregte in Genève voor om verder op hierdie fondament voort te bou. Ons sal lede deurgaans in dié verband ingelig hou.
Alana Bailey is hoof van kultuursake by AfriForum.