AfriForum het vandeesweek hul eerste Pretoriase skool, Laerskool Monumentpark, as deel van dié burgerregtewaghond se teenboelieveldtog besoek.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.
“Dit is vir sowel die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) as die Trauma-eenheid belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Lombaard, navorser by ANI.
Ouers het ook die geleentheid gehad om ’n praatjie by te woon wat deur die akteur Jacques Gombault aangebied is.
“As ’n waardegedrewe Afrikaanse skool streef Monnies na uitnemendheid, eienaarskap, om mekaar te ondersteun, om die vrug van die Gees uit te leef (Gal. 5:22) en om gedissiplineerd, trots, lojaal en positief te wees,” sê Anet Burns, departementshoof van Laerskool Monumentpark.
Stuur ’n e-pos na boelie@antiek.afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog betrokke wil raak.