Die burgerregte-organisasie AfriForum het verlede week met hul teenboelieveldtog by Laerskool Helderkruin in Roodepoort, Gauteng besoek afgelê. Dié projek dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met kinders, onderwysers en ouers in.
“Dit is belangrik vir die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) en Trauma-eenheid om saam met kinders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Lombaard, navorser by ANI.
Antoinette Steyn van AfriForum se Trauma-eenheid het ’n werkswinkel oor afknouery vir die onderwysers aangebied. Tydens dié werkswinkel het onderwysers meer geleer oor hoe kinders se persoonlikhede verskil en hoe elkeen anders en uniek is en daarvolgens hanteer moet word.
Die akteur Jacques Gombault het ’n inligtingsessie vir ouers aangebied oor die rol wat hulle in hul kinders se lewens speel en hoe afknouery op hoërskole hok geslaan kan word deur kinders se ingesteldheid reeds op laerskool te verander.
Chris Schutte, hoof aan die Laerskool Helderkruin, meen dat die skool net positiewe terugvoer van leerders, ouers en onderwysers gekry het.
Stuur ’n e-pos na boelie@antiek.afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie projek betrokke wil raak.