Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat Afrikaans ’n noodsaaklike vereiste is vir die aanstel van kandidaatprokureurs. Die organisasie reageer op die verklaring van die Legal Practice Council (LPC) en die Black Lawyers Association (BLA) dat dit onder meer die vereiste van Afrikaans in advertensies vir kandidaatprokureurs veroordeel. Volgens ’n berig wat gister (14 Julie 2020) in The Star verskyn het, meen die LPC en BLA dat die enigste vereiste Engels moet wees.
Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is 13,5% van die land se bevolking Afrikaanssprekend volgens die syfers van die 2011-sensus. Dit verseker dat daar voldoende werk vir Afrikaanse regspraktisyns sal wees.
Wetgewing soos die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 vereis byvoorbeeld dat kontrakte in ’n taal opgestel moet word wat vir die ondertekenaars ten volle verstaanbaar is. As kandidaatprokureurs nie ervaring in meer tale as net Engels opdoen nie, sal hulle nie aan dié vereiste kan voldoen nie. Baie regspraktyke het oorwegend Afrikaanse kliënte wat dokumente soos sakekontrakte, ooreenkomste, huwelikskontrakte, testamente en boedelbeplanning benodig. Hierdie dokumente moet in Afrikaans bespreek en gelewer kan word.
AfriForum is van mening dat hoofregter Mogoeng Mogoeng nie die grondwetlike of regsgesag gehad het om eensydig aan te kondig dat die taal van hofrekord net Engels moet wees nie. Klagtes teen sy eensydige aankondiging hieroor word steeds plaaslik en internasionaal oorweeg.
Bailey wys verder daarop dat die opkoms van alternatiewe geskilbeslegting in die plek van hofprosesse om veral kommersiële verskille op te los ’n belangrike geleentheid vir Afrikaanse regslui bied om in hul eie taal in die belang van hul kliënte op te tree.
Die LPC en BLA se verklarings bou helaas ook op die drogredenasie voort dat Afrikaanssprekendes oorwegend wit is, terwyl die meerderheid Afrikaanssprekendes aan ander rasgroepe behoort. Met hul vereiste vir Engels is dié instellings dus nie besig met bemagtiging en transformasie nie, maar sit hulle eintlik sowel rasse- as taaldiskriminasie op grond van hul eie ideologiese agendas voort.
“Die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak aan die begin van die maand ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika dui daarop dat die Suid-Afrikaanse bewustheid oor die belang van meertaligheid in Suid-Afrikaanse instellings en Afrikaanssprekendes se taalregte groei. Die LPC en BLA behoort hiervan kennis te neem,” sluit Bailey af.