Die AfriForum-tak in Marble Hall het op 10 Augustus ’n OLV 5 liter-suurstofmasjien aangekoop sodat persone in die gemeenskap wat in nood verkeer hierdie suurstofmasjien intussen kan gebruik.
Dié masjien staan tans by Jordaan Apteek waar gemeenskapslede wat suurstof benodig die nodige behandeling kan ontvang. Persone wat hierdie suurstofmasjien wil gebruik, moet kan bewys dat hulle reeds nooddienste gekontak het om hulle na die naaste hospitaal te vervoer vir hulp.
Die AfriForum-buurtwag in Marble Hall het die afgelope drie maande drie patrollielede verloor as gevolg van asemnood en suurstoftekort. Dit het die tak genoop om hierdie suurstofmasjien aan te koop.
“Ons wil graag ’n groot verskil in ons omgewing maak en ons wil lede van die gemeenskap aanmoedig om by ons tak en buurtwag betrokke te raak sodat ons kan aanhou om na ons gemeenskap om te sien,” sê JP Otto, voorsitter van AfriForum se Marble Hall-tak.
“Die hospitale is vol en ons moet na onsself omsien. AfriForum wil graag hoop skep in hierdie onsekere tyd en deur ’n suurstofmasjien op ’n sentrale punt beskikbaar te stel, verskaf ’n groot mate van gemoedsrus aan die gemeenskap,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Marble Hall-tak: SMS jou naam na 45342 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.