Die AfriForum-tak in Coligny het ’n volhoubare skoonmaakprojek in Voortrekkerstraat, die hoofstraat van die dorp, van stapel gestuur. Met behulp van al die werkers en betrokke persone is daar fluks aan die werk gespring. Onkruid is uitgehaal en plante is weer mooi oorgeplant op die eilande. Los sand, tuinafval en rommel is verwyder. Oor ’n tydperk van vier dae is 12 vragte sand en 20 vragte tuinvullis en rommel weggery.
Na afloop van die projek het Elize van Scharrel, ’n taklid, vergesel deur Frans Gerber, takvoorsitter, 48 ondernemings in die dorp besoek. Eienaars het onderneem om rommel op ’n daaglikse basis voor besigheidsure bymekaar te maak. Dit word dan daarna deur Gerber se werkers namens die AfriForum-tak opgelaai en verwyder. Verder het Van Scharrel die rioolprobleem van sekere ondernemings ernstig aangespreek.
“Die gesondheidsrisiko’s van hierdie probleme is met die besigheidseienaars bespreek en almal is bereid om hulle samewerking te gee. Hierdie projek is in Meimaand begin en gaan volhoubaar voort om seker te maak dat ’n gesonde omgewing vir almal geskep word en behoue bly. Ons sal die nodige druk toepas om te verhoed dat dieselfde probleme herhaal word,” sê Gerber.
“Die munisipaliteit versuim om die dorp netjies te hou en die projek fokus daarop om die tekortkominge van munisipale dienslewering aan te spreek. Die projek is volhoubaar en is geloods om die gemeenskap te help. Daar waar die munisipaliteit nie hul werk doen nie, sal AfriForum toetree om die gemeenskap te ondersteun en om die dorp so netjies as moontlik te hou. Baie dankie ook aan elke gemeenskapslid en onderneming vir hulle betrokkenheid by die projek. Sonder elkeen se bydrae sal die projek beslis nie moontlik wees nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Coligny-tak. Skakel vir Frans Gerber by 083 287 6487 of SMS “Coligny” na 45344 (R1).