Die burgerregteorganisasie AfriForum, die Caring Healthcare Workers’ Coalition (CHC) en die vakbond Solidariteit het vandag ’n brief aan die waarnemende Minister van Gesondheid gestuur oor die behandeling van dokters en gesondheidsorgwerkers in die algemeen met betrekking tot die COVID-19-entstowwe. Die organisasies versoek 1) dat die aanmelding van COVID-19-entstof-negatiewe voorvalle (NV’s) aangemoedig word en deursigtig en openlik beskikbaar gestel word, 2) dat die reg en verantwoordelikheid van mediese dokters om ’n aanbeveling oor ’n mediese behandeling te maak en om gesondheidskwellings rakende ’n mediese behandeling (insluitend COVID-19-entstowwe) te opper beskerm word, en 3) dat die reg van gesondheidsorgwerkers om ’n vrye keuse te maak oor die ontvangs van ’n COVID-19-entstof, duidelik gekommunikeer en beskerm word.
Dít volg nadat die CHC berigte ontvang het van dokters wat geïntimideer word wanneer hulle probeer om COVID-19-entstof-negatiewe voorvalle aan te meld en bespot en mondeling aangeval word wanneer hulle legitieme gesondheidskwellings rakende die entstowwe opper. Berigte van gesondheidsorgwerkers dat hulle gedwing word om ’n weieringsvorm te onderteken as hulle verkies om nie in hierdie stadium die COVID-19-entstof te ontvang nie en berigte van gesondheidsorgwerkers wat geïntimideer en gedreig word om hulle te dwing om die COVID-19-entstowwe te ontvang, het die organisasies ook genoop om op te tree.
Die organisasies vestig ook die minister se aandag op die SA COVID-19 and Vaccine Social Listening Report 4, wat op 7 Junie deur die Departement van Gesondheid gepubliseer is. In hierdie verslag word mediese dokters as “anti-vaxx” geëtiketteer sonder verskaffing van enige definisie van hierdie etiket en die feite waarop so ’n etiket aan ’n mediese dokter geheg word. Een van die voorgestelde optredes in die verslag is dat sogenaamde anti-vaxx-dokters by die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aangemeld moet word. Die organisasies spreek hulle kommer oor hierdie aanbeveling uit omdat die implikasie gemaak word dat ’n dokter se besluit om nie ’n entstof te ontvang of aan te beveel nie of om gesondheidskwellings rakende die COVID-19-entstowwe te opper, wanpraktyke is. Dit skep ook ’n skadelike vorm van polisiëring in die mediese praktyk.
“As dokters het ons ’n verpligting en ’n verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte. Om hulle te help om ’n ingeligte keuse uit te oefen, is deel daarvan. Nog belangriker is dat ons moet verseker dat die ‘keuse’ om in hierdie stadium ’n entstof te ontvang, wel nog ’n keuse is,” sê dr. Naseeba Kathrada, woordvoerder van die CHC.
“’n Bewysgebaseerde pasiëntspesifieke mediese benadering moet gevolg word, waar die mediese praktisyn in staat moet wees om die pasiënt ten volle te adviseer sodat die pasiënt ’n ingeligte besluit kan neem,” sê Henru Krüger, sektorhoof van medies by Solidariteit.
“Die publiek moet behoorlike inligting oor entstof-nadelige voorvalle kry en hierdie inligting moet deursigtig en openlik beskikbaar wees sodat hulle ingeligte instemming kan uitoefen by die besluit om COVID-19-entstowwe te ontvang, waarvan party tans in fase drie van kliniese proewe is en nog nie geregistreer is nie,” sê Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum.