Header Artwork
AfriForum: ANC moet hand in eie boesem steek oor dubbele standaarde 

AfriForum het vandag die ANC uitgedaag om ’n dringende oudit van die kwalifikasies en bevoegdheidsvlakke van munisipale bestuurders en senior amptenare in ANC-beheerde munisipaliteite te doen. AfriForum se uitdaging volg op die ANC se aankondiging dat dié party strafregtelike klagtes gaan lê teen J.P. Smith, die Kaapse metroraad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, vir beweerde wanvoorstelling van sy kwalifikasies.

Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, moet die ANC sy eie huis in orde kry. “Natuurlik moet die Smith-kwessie ondersoek word en, indien nodig, stappe gedoen word. Dit moet egter nóg belangriker vir die ANC wees om te ondersoek of  munisipale bestuurders en senior amptenare voldoende kwalifikasies het en voldoen  aan die bevoegdheidstandaarde om die poste te beklee waarin die ANC hulle aangestel het,” sê Kruger.

Kruger voeg by dat ’n onlangse verslag van die Onafhanklike Komitee van Ondersoek na die stand van munisipaliteite in Gauteng, aangetoon het dat soveel as 28% van senior amptenare in Gauteng nie voldoen aan bevoegdheidstandaarde vir die poste waarin hulle aangestel is nie. “Die ANC moet ook die hand in eie boesem steek en met dieselfde ywer die kwalifikasies van ANC- munisipale bestuurders landwyd oudit. Die ANC het ’n jammerlike baanrekord wanneer dit kom by optrede teen amptenare wat nie voldoende kwalifiseer vir poste nie. Daarvan is dr. Pallo Jordan en Hlaudi Motsoeneng se wanvoorstelling van kwalifikasies sonder enige gevolge, twee onlangse voorbeelde,” meen Kruger.

Volgens Kruger is die hoë persentasie amptenare wat volgens die verslag nie voldoen aan bevoegdheidstandaarde in senior finansiële- en bestuursposte nie ’n skreiende skande. “Een van die vernaamste oorsake vir munisipale verval en vrot dienslewering is ’n gebrek aan kritiese vaardighede en bevoegdheid binne munisipaliteite. Belastingbetalers het genoeg gehad van goedkoop politiek en kaderontplooiing ten koste van gemeenskappe se reg op dienslewering,” voeg Kruger by.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN