Header Artwork
AfriForum se Bloemfontein-tak doen instandhoudingswerk by President Brand-begraafplaas

Die AfriForum-tak in Bloemfontein het onlangs ingespring om instandhoudingswerk by die President Brand-begraafplaas te doen. AfriForum voer jaarliks ’n monumentoudit uit om Suid-Afrika se talle historiese monumente te evalueer sodat daar boekgehou kan word indien die toestand van ’n monument agteruitgaan.

Die tak is onlangs deur Dirk Venter genader, wat onderneem het om hulp te verleen met die instandhouding van dié begraafplaas. “AfriForum is ’n baken van hoop vir die samelewing. Op vele gebiede verleen hulle hulp waar munisipaliteite ineenstort. Ek het self sowat vyf jaar gelede die President Brand-begraafplaas aangeneem,” sê Venter.

Volgens Venter kon hy tot en met die aanvang van die nasionale inperking die begraafplaas onderhou met fondse wat hy self verskaf het, maar weens die streng inperkingsregulasies het die perseel vinnig agteruitgegaan. “Ons het omtrent 60% van die aangeplante bome verloor omdat ons dit nie kon natlei nie weens die inperkingsregulasies. Daarna het die gras en bossies dig gegroei weens die baie reën. Ons het ’n bossiekapper aangeskaf in ’n poging om die begraafplaas netjies te hou.”

Venter sê hy het AfriForum daarna om hulp genader. “Binne ’n maand nadat ek Christo Groenewald van AfriForum genader het, was die begraafplaas skoon. Die feit dat AfriForum saam met ons werk om die begraafplaas – waar vele presidente begrawe is – te onderhou, gee ’n mens sommer weer hoop en moed om weer aan te gaan. Saam met AfriForum sal ons die begraafplaas tot sy volle glorie herstel en verseker dat ons erfenis behoue bly.”

Die hulp van Anchor of Hope is deur die tak ingespan met dié skoonmaakprojek. Tot dusvêr is altesaam 58 sakke vol tuinvullis, wat ongeveer 12 ton weeg, verwyder. Sowat 20 sakke moet nog verwyder word.

“Ons wil graag ons erfenis beskerm. Baie mense in die gemeenskap is nie bewus van ons monumente en gedenkwaardighede in Bloemfontein nie. Ons wil sovêr moontlik alle monumente op peil bring sodat die gemeenskap nooit ons geskiedenis sal vergeet nie en vrylik toegang kan kry om die monumente veilig te besoek. Die skoonmaak van die President Brand-begraafplaas sal as ’n volhoubare projek deur AfriForum se Bloemfontein-tak ondersteun word,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Help AfriForum om ons erfenis en monumente te bewaar: SMS “AfriForum” na 45266 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN