Die AfriForum-buurtwag in Kirkwoord het in die vroeë oggendure van 3 Maart hulp verleen aan die SAPD in ’n soektog na verdagtes wat by ’n plaasaanval in dié omgewing betrokke was.
Omstreeks 02:30 het vier mans, met messe gewapen, ’n plaashuis in die Kirkwoord-omgewing binnegegaan, die huiseienaar oorrompel en met ’n mes gesteek. Die huiseienaar kon egter daarin slaag om homself te verdedig: Een verdagte is noodlottig gewond en ’n tweede moontlik gewond. Die huiseienaar het dadelik alarm gemaak en ’n boodskap op een van die WhatsApp-noodgroepe gestuur. Die protospan van die plaaslike AfriForum-buurtwag, die SAPD en ’n sekuriteitsmaatskappy in die omgewing het oombliklik reageer.
Daar is vermoed dat die verdagtes in die rigting van die dorp gevlug het. Een van die protospanlede wat in die omgewing was, het verby drie persone gery wat verdwaal gelyk het. Hy het by hulle gestop en twee van die mans het agterop sy bakkie geklim. Die protospanlid het die res van die span gekontak en die twee mans is deur die SAPD in hegtenis geneem as moontlike verdagtes. Dit is kort daarna bevestig dat hulle inderdaad die verdagtes is. ’n Soektog na die derde verdagte is dadelik van stapel gestuur. Boere in die omgewing, die SAPD se Uitenhage-honde-eenheid, plaaslike SAPD-lede en die AfriForum-buurtwag het aan die soektog deelgeneem. Teen 15:00 was daar egter steeds geen teken van die verdagte nie. Die plaaslike gemeenskap het goed saamgewerk en twee hommeltuie en drie helikopters is ook ingespan om die soektog te ondersteun.
“Baie dankie aan elkeen wat ’n rol gespeel het om die verdagtes aan te keer en die eienaar te ondersteun. Flinke optrede het gekeer dat die situasie vererger. Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van doeltreffende samewerking en wat daarmee bereik kan word,” sê Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.
SMS “VEILIG” na 45353 om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.