Header Artwork
AfriForum: Dis departement se onvermoë wat krisis skep, nie hofsaak nie   

Volgens AfriForum is die enigste krisis in die onderwyssektor die Departement van Basiese Onderwys se onvermoë en traagheid om die skuldiges vas te trek wat die eksamenvraestelle in die 2020-eindeksamen uitgelek of gebruik het om onregmatige voordeel in die eindeksamen te bekom. Dié burgerregteorganisasie is van mening dat die departement nou agter die hofuitspraak wil skuil as verskoning vir die feit dat hulle nog nie eers ’n behoorlike ondersoek na die uitgelekte vraestelle gedoen het nie.

Dit volg nadat AfriForum, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) en ’n groep individuele leerders van Ermelo in Mpumalanga verlede week in drie verskillende dringende aansoeke die hof versoek het om Motshekga se besluit – naamlik dat die eksamenvraestelle vir Wiskunde II en Wetenskap II oorgeskryf moet word – te hersien en ongeldig te verklaar.

“Die departement se uitsprake is vergesog dat die hof se beslissing – dat die uitgelekte vraestelle nie oorgeskryf hoef te word nie – die geloofwaardigheid, integriteit, betroubaarheid en regverdigheid van die hele 2020-eksamen in gedrang bring. Eerder as om die hofuitspraak te blameer, moet die departement daarop fokus om ’n behoorlike ondersoek te doen om die skuldiges vas te trek. Die departement moet ook vasstel hoe die vraestelle in die eerste plek uitgelek het om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom,” sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.

Volgens Venter sou die departement se aanvanklike besluit (dat die vraestelle wel oorgeskryf moet word) en uitsprake dat hulle nie die omvang van die lekkasie kan vasstel nie ’n baie gevaarlike presedent skep indien vraestelle in die toekoms weer sou uitlek. “Kommunikasie- en sosialemediaplatforms soos WhatsApp gaan deel bly van ons lewens. Gaan die departement elke keer wanneer ’n vraestel uitlek, vereis dat alle leerlinge gestraf word deur die eksamen oor te skryf omdat die departement kwansuis nie kan bepaal wie almal die vraestelle onder oë gehad het nie?”

AfriForum het ook aangedui dat dit graag wil sien teen watter aspekte van regter Norman Davis se uitspraak die departement gaan appelleer. “Ons sal ook nie skroom om verdere regsaksies te voer indien enige eerlike matrikulant onregverdig benadeel word nie.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN