Die AfriForum-takke aan die Oos-Rand het die afgelope twee weke handreiniger en skoonmaakmiddels ter waarde van sowat R20 000 aan sentrums in die area geskenk. Die middels is aan Elim-rehabilitasiesentrum in Kempton Park, Remme-Los, ’n selfhelpsentrum vir mense met gestremdheid in Germiston, en Potters Haven-kinderhuis in Springs geskenk. Hierdie skenking vorm deel van ’n groter skenking wat AfriForum van ’n anonieme skenker ontvang het.
“Baie organisasies gaan gebuk onder groot finansiële druk weens COVID-19. Organisasies soos dié trek tans baie swaar en ontvang baie minder skenkings as gewoonlik. Dit is waarom dit belangrik is dat organisasies mekaar in hierdie tyd moet ondersteun – veral omdat ons nou die feesseisoen ingaan. Elke bietjie help om verligting en geluk te bring,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke en word deel van die verskil: SMS jou dorp se naam na 45342 (R1).