AfriForum het tesame met sy tak in Centurion verskeie probleme onder die Tshwane-metro se aandag gebring en versoek dat die probleme dringend aangespreek moet word.
AfriForum het op 4 Desember ’n skrywe aan die metro gerig oor ’n waterlek in Montague Kneen-park in Valhalla. Die waterlek is volgens inwoners al verskeie kere aangemeld en lek al vir meer as ses maande. AfriForum se Centurion-tak is deurlopend besig om verskeie parke in die gebied op te knap en dit weer op standaard te bring. Gras word gesny en vullis word verwyder om die parke weer familievriendelik te maak.
Op 9 Desember het die tak die metro verwittig van ’n groot slaggat naby Laerskool Wierdapark. Die slaggat het ernstige probleme ingehou vir motoriste veral omdat dit so naby aan die skool was. Die tak het later die dag ondersoek gaan instel en gevind dat die slaggat reeds herstel is. Hierdie tak het deur die jare al verskeie slaggate herstel om paaie vir inwoners te beveilig.
“AfriForum sal voortgaan om druk op die metro te plaas om te verseker dat dringende probleme dadelik aangespreek word. Die burgerregteorganisasie sal verder ook projekte aanpak om die gemeenskap en omgewing vir almal te verbeter. Ons is dankbaar teenoor die metro dat hulle wel aandag gee aan probleme en hoop om in die toekoms saam te werk aan uitdagings,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
“AfriForum sal aanhou om gemeenskappe te versterk deur die nodige kennis en hulpbronne te voorsien om probleme en uitdagings aan te spreek ,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
Die tak het deur die loop van die jaar verskeie projekte suksesvol aangepak en beplan om in die nuwe jaar voort te gaan en nog groter sukses te behaal. Die gemeenskap word aangemoedig om by die tak aan te sluit en projekte saam aan te pak.
Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45341 (R1).