Header Artwork
Geregtelike ondersoek na vlammedood van gesin uitgestel

Die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Suraya Deedat en haar vier kinders is vandag in die Johannesburgse landdroshof uitgestel tot 23 tot 25 November 2020. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders en lei ook die getuienis. Naeem, Suraya se man, is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het waarin Suraya en haar kinders oorlede is. Die uitstel volg nadat adv. P. Jorgensen (’n senior advokaat) wat deur Naeem Deedat aangestel is, aangevoer het dat hy nie vandag beskikbaar is nie. Dít ten spyte van die feit dat die datum van die geregtelike doodsondersoek reeds in Julie vanjaar deur die hof vasgestel en volgens die staatsaanklaer deur die advokaat self voorgestel is. Die privaatvervolgingseenheid het die datum ook op 4 November met Naeem se regspan bevestig.

Adv. Jorgensen het verder die verspilde uitgawes van die privaatvervolgingseenheid se deskundige om vandag in die hof te wees, vergoed. ’n Patoloog, branddeskundige, familielede van Suraya en Naeem, drie polisiebeamptes, asook Naeem self sal later vandeesmaand getuig.

“Dit is teleurstellend dat die saak weer eens uitgestel moet word, veral omdat hierdie familie reeds vir amper ’n dekade wag om te sien dat geregtigheid vir Suraya en haar kinders geskied – en dit bloot omdat die hofdatums Naeem se regspan verontrief. Die feit dat die saak voortdurend uitgestel word as gevolg van Naeem se regspan wat nie gereed of beskikbaar is nie, belemmer die reg van Suraya se familie om te sien dat geregtigheid geskied. Die gerief van die advokaat kan nie voorrang geniet bo die regte van ander belanghebbendes nie,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Suraya en haar kinders het in Julie 2011 in hul huis in Booysens, Johannesburg, tydens die brand gesterf. Niemand is nog vir hul dood aanspreeklik gehou nie. Die formele geregtelike doodsondersoek gee belanghebbende partye die geleentheid om getuienis te toets en help die landdros om tot ’n bevinding te kom rakende wie en/of wat verantwoordelik was vir hul dood. Naeem het tydens die brand waarin sy hele gesin gesterf het, deur die badkamervenster ontsnap.

Skakel na vorige mediaverklaring: https://antiek.afriforum.co.za/geregtelike-ondersoek-na-dood-van-deedat-gesin-gaan-voorlopig-in-april-voort/

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN