Die AfriForum-tak in Meyerton het op 6 November 2020 nege vrugtebome by Eagle Wings in Riversdale geplant.
Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, het die organisasie vanjaar landwyd meer as 3 000 bome geplant.
“Deur vrugtebome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Dit is werklik die mooiste voorbeeld van hoop soos elke vrugteboom seisoen ná seisoen blom en vrugte dra. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Ungerer.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die AfriForum se Meyerton-tak het vir 2020 op vrugtebome gefokus om in dié uitdagende tye ook vrugte te kan lewer.
“Die plant van bome bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Ungerer.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. Sluit vandag nog by AfriForum se Meyerton-tak aan: SMS “Meyerton” na 45342 (R1).