Header Artwork
AfriForum open beheerkamer in die noordstreek

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 1 September sy beheerkamer vir die noordstreek in Ellisras amptelik geopen. Dié beheerkamer sal AfriForum se buurtwagte in die noordstreek 24 uur per dag, sewe dae ’n week met operasionele take bystaan, asook tydens noodgevalle.

AfriForum se veiligheidstrukture in die noordstreek het aan die einde van 2018 in samewerking met verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye en vrywillige buurtwaglede ’n loodsprojek van stapel gestuur onder die naam Projek Herlei met die doel om ’n beheerkamer in die noordstreek op die been te bring om buurtwagte beter te ondersteun.

Verskeie suksesse is reeds tydens die eerste fase van die projek behaal, terwyl ’n span vrywilligers ook op die been gebring is om te verseker dat die noordstreek se radionetwerk voortdurend gemoniteer word. Die sekuriteitsmaatskappy GAC Sekuriteit het ook betrokke geraak om hulp te verleen met die monitering van die streek se radionetwerk.

Tydens die tweede fase, wat op 15 April 2019 geloods is, het JHD Protection Services en Monster Sekuriteit ook betrokke geraak om die noordstreek se kommunikasiekanale te verbeter en te moniteer.

Hierdie projek het reeds buurtwagte in die noordstreek se vermoë om te kommunikeer en inligting te versamel drasties verbeter. Misdaadstatistiek word beter versamel, wat lei tot die beplanning van proaktiewe optrede in samewerking met die SAPD en ander instansies om misdaad te bekamp.

“Samewerking tussen verskillende instansies kan daartoe lei dat ons meer kapasiteit skep om ’n verskil te maak en ons gemeenskappe te beveilig deur proaktiewe maatreëls in plek te sit,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

“AfriForum se veiligheidstrukture in die noordstreek is tans ook besig om aan ander projekte te werk om kapasiteit in die streek selfs verder te verhoog. Dit fokus onder meer op die verbetering van administratiewe kapasiteit, lugvermoë, asook operasionele en inligtingsvermoë sodat AfriForum se buurtwagte daadwerklik tot proaktiewe gemeenskapsveiligheid kan bydra. AfriForum nooi enige instansie of onderneming uit om by hierdie tipe projekte betrokke te raak,” sluit Coetzer af.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en maak ’n verskil in jou gemeenskap: SMS “Noord” na 45353 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN