AfriForum se Bellville-buurtwag, wat deel vorm van die organisasie se Kaapstad-Noord-tak, het op 10 Augustus ’n vermeende dief in hegtenis geneem wat onder meer ruitveërs van ’n voertuig in St. Jamesstraat in Oakdale, Bellville gesteel het.
Johan Fritz, buurtwagvoorsitter, en sy broer Morné het ’n verdagte persoon opgemerk en nadere ondersoek ingestel. Toe die verdagte opmerk dat hy agtervolg word het hy probeer vlug, maar is in De Langestraat vasgetrek. Nadat die gesteelde items by hom gevind is, is hy aan die plaaslike polisie oorhandig.
“AfriForum is hier om ’n verskil te maak en hierdie is weer eens ’n bewys dat buurtwagte die oë en ore van die polisie op grondvlak is. Buurtwagte speel ’n belangrike rol in die veiligheid en welstand van ons lede op plaaslike vlak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).